NewsNews

Eureka Park toe onder tuinvullis

Bejaarde inwoners van Eureka Park in Carletonville sê hulle is raadop omdat die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit skielik nie meer hul tuinvullis verwyder nie.

Volgens een van die inwoners van dié munisipale kompleks vir ouer mense wat nie ander blyplek kan bekostig nie, die 79-jarige mnr. Seun Schutte, laai die munisipaliteit sedert Februarie nie meer inwoners se tuinvullis op nie.
“Voorheen was dit die parke-afdeling wat dit kom haal het, maar hulle sê hulle gaan dit nie meer doen nie. Die vullisverwyderingsafdeling sê weer dit is nie hulle werk nie, want hulle ry net huishoudelike gemors weg,” sê hy.
Teen Maandag was die houers waarin inwoners hul tuinvullis gooi, reeds tot oorlopens toe vol.
Daar was al soveel gemors in van die houers dat die sakke wat nie meer ingepas het nie, meer was as dit wat wel in die houers kon pas.
“Ons het al oral gaan hulp soek, maar niemand wil iets vir ons doen nie,” kla Schutte.
Die Herald het die munisipaliteit Dinsdag oor die probleem gekontak.
“Die gemors sal so gou as moontlik verwyder word,” het ‘n munisipale woordvoerder gesê.

Related Articles

Back to top button