NewsNews

Man in hegtenis na poging om seun te ‘ontvoer’

Die seun het losgeruk en na die nabygeleë ouerhuis van een van sy skoolmaats gehardloop, vanwaar sy ouers geskakel is

VANDERBIJLPARK. – ‘n Afrikaanssprekende man van sowat 48 jaar oud is verlede week in hegtenis geneem nadat hy na bewering ‘n 14-jarige skoolseun aan die arm beetgekry en in sy voertuig probeer intrek het. Die seun kon egter daarin slaag om los te ruk en na ‘n skoolmaat wat ook in die omgewing woon, se huis te hardloop.
Volgens die seun se ma, wat nie geïdentifiseer mag word nie om die minderjarige kind se identiteit te beskerm, is haar seun erg deur die gebeure getraumatiseer.
“My seun het die middag in die parkie naby ons huis in Vanderbijlpark gespeel en was kort voor 17:00 te voet op pad huis toe, toe ‘n man in ‘n bakkie met ‘n onderneming se kenteken daarop, langs hom gestop het. Die man het gevra hoe goed hy die gebied ken en of hy die pad na ‘n sekere winkelsentrum aan hom kon verduidelik. Die man vra toe verder of my seun vinnig ‘n paar rand wil verdien en of hy weet hoe om te “vry”. My seun het besef hy moes dadelik wegkom, maar toe hy omdraai om weg te stap, het die man hom aan die arm beetgekry en in die voertuig probeer intrek.”
Haar seun het losgeruk en na die nabygeleë ouerhuis van een van sy skoolmaats gehardloop, vanwaar sy ouers geskakel is.
“Toe ons hom by sy vriend se huis gaan haal, het ek dadelik gesien hy is in ‘n toestand. Hy wou eers nie oor die voorval praat nie, maar het toe stukkie-vir-stukkie begin vertel wat gebeur het. Ons is seker die man wou hom ontvoer,” sê sy ma.
“Op pad polisiestasie toe om ‘n klag te gaan lê, het my seun toevallig die verdagte en sy bakkie naby ons huis opgemerk. Ons het die bakkie agtervolg tot naby Hoërskool Transvalia, maar hom verloor. Ons het die voorval op ons gebied se “group chat” gerapporteer en mense wat inligting oor die man en sy bakkie gehad het, gevra om ons te help om die verdagte op te spoor. Uiteindelik kon ons sy adres vasstel.
“Ons het aanvanklik gesukkel om ‘n saak oop te maak, maar brigadier Nikiwe Hoaeane van die Vanderbijlpark-polisie was baie simpatiek en het ons persoonlik bygestaan om ‘n klag van poging tot ontvoering te lê,” sê die ma. Die verdagte, ‘n getroude man wat glo self twee jong kinders het, is Dinsdag by sy huis in die SE1-area deur insp. Gibbs Gerber van die speurtak se opsporingsafdeling in hegtenis geneem. Die verdagte het Donderdag om borgtog aansoek gedoen, maar dit is afgekeur. Hy is steeds in aanhouding en verskyn weer later die maand in die Vanderbijlparkse landdroshof.
Vaalweekblad het vertroulik verneem dat daar nóg klagte teen die verdagte kan volg nadat nog ‘n jong seun en meisie na vore gekom het met bewerings dat hy hulle ook in sy voertuig wou inlok.
* Die nie-regeringsorganisasie Missing Children SA sê in ‘n onlangse mediaverklaring dat kinderontvoerings in Suid-Afrika aan die toeneem is. Volgens ‘n woordvoerder van die organisasie, Bianca van Aswegen, is meisies sowel as seuns in gevaar en ouers word aangeraai om hul kinders van jongs af te leer om bedag te wees op die gevare as vreemdelinge geselsies met hulle probeer aanknoop. Van Aswegen sê mensehandel is ‘n wêreldwye kwessie en dat ontvoerde kinders moontlik as prostitute of slawe in Suid-Afrika gebruik word, of vir dieselfde doel uit die land geneem word. Volgens Van Aswegen word slegs 1% van slagoffers van kinderontvoering ooit weer gevind.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button