Ons verdien beter

Ons inwoners en omgewing verdien baie meer as die diens wat dit op dié tydstip van die regering af kry.

Ons inwoners en omgewing verdien baie meer as die diens wat dit op dié tydstip van die regering af kry.

Sommige inwoners raak die afgelope tyd half neerslagtig omdat die toestande in ons omgewing, veral in Carletonville, al hoe meer agteruitgaan. Dit is nie net dienslewering wat nie op standaard is nie. Die feit dat baie inwoners se houdings ook kan verbeter, kan gesien word aan die toenemende getalle inwoners wat rommel strooi of nie omgee of die vullis wat uit hul erwe verwyder word, nie onwettig op openbare plekke gegooi word nie.

Die feit dat ons omgewing egter nog baie positiewe dinge het wat dit ligjare beter as talle ander klein dorpe maak, kan gesien word uit die prestasies wat van ons inwoners en plaaslike instansies onlangs behaal het. Verlede week het die Johannesburgse Valskermspringklub, wat buite Carletonville gesetel is, ander instellings van regoor die Wesrand, wat die toeriste-mekka van Magaliesburg insluit, tydens ‘n groot toerisme-kompetisie uitgestof.

Dié week berig die Herald weer oor ‘n junior gholfspeler wat binnekort weer in die VSA teen opponente van regoor die wêreld gaan deelneem. Dan praat ons nie eers van ander plaaslike sterre soos ons bekende seil-familie, die Robinsons, of die verskeie plaaslike sokkerspelers wat internasionaal professioneel deelgeneem het nie. Met sulke talent in ons midde wys dit dat daar nog baie is waarop inwoners trots kan wees.

Die feit dat sommige inwoners dit steeds, ondanks al die probleme, kan regkry om besondere prestasies te behaal moet ook vir die ander ‘n aansporing wees om nie alles net te aanvaar soos dit kom nie, maar in alles, selfs in die wyse waarop ons basiese dagtake verrig, na net die beste moet streef. Dieselfde is op ons plaaslike regering van toepassing.

Ons is ‘n gemeenskap met verskeie inwoners wat bo-gemiddelde talent het en is op net die beste wat onder omstandighede gelewer kan word, geregtig.

Exit mobile version