Munisipale voertuie word vir privaat werk misbruik

“Ek is moeg hiervoor. Sommige mense moet ten duurste privaat vragmotors en ander voertuie huur, terwyl ander sommer die munisipaliteit s’n gebruik.” Dit was die afgelope week die woorde van een van die inwoners wat in die omgewing van Elmstraat in Fochville woon. Verskeie mense van dié omgewing het die afgelope week of wat by …

“Ek is moeg hiervoor. Sommige mense moet ten duurste privaat vragmotors en ander voertuie huur, terwyl ander sommer die munisipaliteit s’n gebruik.”

Dit was die afgelope week die woorde van een van die inwoners wat in die omgewing van Elmstraat in Fochville woon. Verskeie mense van dié omgewing het die afgelope week of wat by die Herald oor die misbruik van munisipale voertuie op erwe in dié straat gekla. Sover vasgestel kan word, word vragmotors, stootskrapers en laaigrawe wat aan die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit behoort én deur werknemers van die munisipaliteit daarheen bestuur word, van tyd tot tyd gesien waar dit op die oop erwe werk verrig. Al drie die erwe waarop die voertuie gesien is, behoort sover vasgestel kan word aan werknemers van die munisipaliteit.

Een van die munisipale vragmotors besig om op een van die privaat-erwe te werk.
Een van die munisipale vragmotors besig om op een van die privaat-erwe te werk.

Van die ontstoke inwoners het tydens twee van die voorvalle, in Februarie en Junie 2014, van die voertuie op die erwe afgeneem. Munisipale voertuie is onder meer weer twee weke gelede, op 24 April omstreeks 12:00 op een van die erwe gesien. ‘n Munisipale vragmotor met die registrasienommer BFS 25MGP, is in Januarie en Junie verlede jaar op die terrein afgeneem, terwyl ander vragmotors, waaronder BC95GMGP en BF32SRGP, asook onder meer ‘n laaigraaf, op die terrein afgeneem is.

Van die voertuie se lisensieskywe wys die naam Fleet Management Services, wat beteken dat dit munisipale voertuie is. Met tye is van die voertuie se registrasienommers verwyder sodat daar nie nagespeur kan kom aan wie dit behoort nie. Al die foto’s is op dié tydstip in die Herald se besit.

Van die foto’s wys ook hoe van die vragmotors vragte grond en klip wat op bogenoemde erwe verwyder is, na ‘n nabygeleë plaas, wat ook blykbaar aan ‘n munisipale werknemer behoort, aanry. “Ons het al alles probeer om die munisipaliteit van die probleem bewus te maak. Daar is al briewe geskryf en ons het onder meer die munisipale anti-korrupsielyn geskakel. Dié lyn is egter, lyk my, net iets wat ingestel is om die politici gelukkig te hou, want daar het absoluut niks van ons klagtes gekom nie,” het ‘n ander inwoner vertel.

'n Munisipale laaigraaf laai grond wat op een van die private erwe opgeskraap is, op 'n munisipale vragmotor.
‘n Munisipale laaigraaf laai grond wat op een van die private erwe opgeskraap is, op ‘n munisipale vragmotor.

“Dit maak ‘n mens regtig kwaad. Ek het die munisipaliteit al ‘n keer gekontak toe ek dringend ‘n “backactor” vir ‘n halwe dag wou huur. Hulle het net gesê hulle kan nie want sulke toerusting word nie vir privaat werk uitverhuur nie. Ek moes toe op ‘n ander plek een in die hande kry. Hoe is dit dan dat dieselfde reël nie vir hierdie mense ook geld nie?” het een van die ontstoke inwoners gewonder.

“Dit is belaglik dat hierdie goed net so aangaan. Dit word keer op keer aangemeld, maar niks word aan hierdie mense gedoen nie. Dit is ons belastingbetalersgeld wat so vir mense se privaatgoed gebruik word,” het nóg ‘n bekommerde inwoner gekla.

“Die munisipaliteit beskou die misbruik van munispale eiendom in ‘n baie ernstige lig. Die persoon of persone wat by sulke misbruik betrek word, moet geïdentifiseer word. Die feit dat die saak by die bedrog-hulplyn aangemeld is en niks gebeur het nie, sal verder ondersoek word en ‘n volle verklaring sal na afloop hiervan uitgereik word,” het ‘n munisipale woordvoerder gesê.

Die Herald het ook van die foto’s waarop die voertuie sowel as ‘n munisipale werker duidelik geïdentifiseer kan word, aan die munisipaliteit gestuur om hulle met hul ondersoek te help. Die munisipaliteit se strategiese direkteur vir koörporatiewe- en gedeelde dienste, adv. Zoleka Conjwa, is as die aangewese amptenaar aangedui wat die saak gaan ondersoek, aangesien sy vir die munisipaliteit se voertuie verantwoordelik is.

Related Articles

Back to top button