Local newsSport

Hoërskool Fochville se o.15s wys hul kán

Hulle het verbete tot die einde geveg.

Hoërskool Fochville se o15 rugbyspan het dié seisoen weereens gewys dat hulle van die beste in die land is.

Die skool se woordvoerder, Elsabe de Mesquita, sê dié rugbymanne en hulle twee afrigters, Pieter de Witt en James Randall, het vanjaar die seisoen in hoofletters afgesluit en ook hul name in Fochies se ryke rugbygeskiedenis neergeskryf.

“Hierdie seuns was nie tevrede om as o14’s in die Leeu-finaal tweede te eindig nie en daarom is definitiewe doelwitte gestel waar karakter en harde werk as middelpunt gestel is. Die toer vanjaar in die Maart vakansie het mooi beloftes begin inhou toe hierdie karaktergedrewe seuns al drie hul toerwydstryde gewen het en die Super 16 as voorseisoen ook mooi beloftes begin toon het,” sê De Mesquita.

Hierdie ster-span was vanjaar die Leeu-wenners, maar het toe ook met ywer die onbekende pad van die Noordvaal Uitspele wedstryd vir wedstryd aangepak.

“Die Julie vakansie is daar baie hard geoefen en die Sodwana-oefenkamp het hierdie manne baie nader aan mekaar gebring en daar is bitter hard vir vier dae op die strand met hierdie seuns gewerk.

“So beland ons seuns dan in die Noordvaal Finaal waar Hoërskool Hoogenhout van Bethal in Mpumalanga, wat boonop 2023 se wenners was, ons teenstanders was. Om vinnig 14 – 0 agter te wees, het nie hierdie manne geskud nie. Met ‘n goeie terugveg poging en deur karakter te wys het hierdie manne met net drie minute se speeltyd oor 15 – 14 voor geloop. Hoogenhout het egter in die doodsnikke die knoop deurgehaak en Fochies moes die knie buig met ‘n telling van 21 – 15.

“2025 is verseker reeds in hierdie manne en hulle afrigters se visier. Dankie aan elke ouer en ondersteuner wat bankvas agter hierdie seuns van ons gestaan het.”

Related Articles

Back to top button