Local newsSport

Fochville se Eerstes wys hul staal

Hulle het 'n uitstekende seisoen gehad.

Hoërskool Fochville se eerste rugbyspan het hierdie seisoen gewys dat hulle ‘n groep is waarop gereken kan word.

Volgens die skool se woordvoerder, Elsabe de Mesquita, was die afgelope seisoen se spel ‘n suksesverhaal. Daar is einde 2023 besluit dat die span, wat deur Ryno Hefer, Renier Bloem en Westley van der Walt afgerig word, beter gekondisioneerd moet wees en daarom is daar vroeg met die kondisionering begin.

Die seuns se toer tydens die April skoolvakansie was die begin van mooi dinge waar hulle dan twee Afdeling 2 skole, uit ‘n liga wat hoër is as wat Hoërskool Fochville voorheen gewen het, aangevat het. Fochville het Hoërskool Pretoria Noord en Hoërskool Frans du Toit van Phalaborwa gewen.

Die manne het boonop gelykop teen Hoërskool Kalahari van Kuruman gespeel.

“Inbors en karakter was die hele seisoen ons seuns se rede vir sukses in die liga en daarom is hulle toe ook deur na die uitspele na afloop van die vakansie.

Tydens die drie weke winter skoolvakansie is daar baie hard in die gym met die seuns gewerk. In die wedstryd teen Hoërskool Bergvlam het die telling heeltyd wipplank gery,” sê De Mesquita.

Hoewel Fochies in die doodsnikke van die wedstryd met ‘n telling van 26 – 32 die knie teen Bergvlam van Nelspruit moes buig, is die skool baie gelukkig met hul span se prestasie.

“‘n Mens kan nie trotser wees as jou afrigters soos een man bevestig dat hierdie seuns bo hulle vermoë presteer het nie. Hulle is een van die spanne wat Mnr. Bloem uitsonder wat die mees konstante rugby gespeel het en mooiste drieë gedruk het tydens sy 27 jaar van afrigting. Dankie vir elke seun hier by Fochies. Ons is bitter trots op elkeen van julle,” sê De Mesquita.

Related Articles

Back to top button