Local newsSport

Dorado-lid deel van Protea-wenspan

'n Lid van die Dorado Skibootklub van Carletonville was deel van die nasionale span wat onlangs tydens 'n internasionale kompetisie presteer het.

Mariëtte Hendriksz was deel van die Protea-span wat van 17 tot 19 Maart aan die South Coast Blue Marlin Open deelgeneem het.
Die kompetisie is deur die Diani Sportfishing Club in Diani Beach in Kenia aangebied en is ook ‘n kwalifiseerder vir die wêreld diepsee-hengeltoernooi.
‘n Voormalige lid van Dorado Skibootklub wat sy junior en eerste senior provinsiale kleure as lid van dié klub verwerf het maar nou in Pretoria woon, Davin van der Merwe, was die Protea-span se kaptein. Wessel Grimbeeck en Clinton Good, wat albei van Meyerton af kom, was die ander lede.
Spanne van Engeland en die Azore-eilande, wat aan Portugal behoort, het ook deelgeneem.
Volgens Hendriksz het die Proteas tydens die drie oefendae verskeie Dorados, ‘n Swart Marlyn, ‘n Streep Marlyn en ‘n Seilvis gevang wat hulle die selfvertoue gegee het dat hul planne goed werk.
Hulle het voortgegaan en ‘n Blou Marlyn, ‘n Seilvis, nege Dorado’s en ‘n Wahoo ingekatrol wat hulle met ‘n stewige 1584.90 punte as oorwinnaars uit die stryd laat tree het.
Die span van Azores het tweede geëindig met 613.80 punte en die span van Engeland was derde met 402.5 punte.
Wat Hendriksz se prestasie nóg meer besonder maak, is die feit dat sy die eerste vrou in 19 jaar is wat haar Protea-kleure in diepsee-hengel verwerf het.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button