Local newsNews

SAVF Lappop in Carletonville vier besondere mylpaal

Die kleingoed word van jongs af by hierdie spesiale kleuterskool in Carletonville opgevoed.

Die SAVF se Lappop Kleuterskool in Carletonville vier met trots sy 14de bestaansjaar sedert die instelling se oprigting op 1 Maart 2010. Met 45 jaar se betrokkenheid by die Carletonville gemeenskap en 14 jaar by Lappop, het Bernadette Oosthuizen, die Hoof van die kleuterskool, ‘n besondere reis van groei en ontwikkeling beleef.

Toe SAVF Lappop in 2010 begin het, was dit nog maar ‘n klein skooltjie met slegs ‘n paar kindertjies. Sedertdien het die instelling fenomenaal gegroei, en die kinders wat hul Graad R voltooi het, floreer tans in verskeie skole in Carletonville en die omliggende gebiede.

“Ek is ongelooflik trots om te sien hoe ons skool gegroei het. Die toewyding en deursettingsvermoë van elke personeellid speel ‘n sleutelrol in die sukses wat ons bereik het,” sê Oosthuizen.

Die SAVF Versorgingsoord is in 1994 gestig deur die SAVF, toe die Departement van Arbeid kursusse vir vroue aangebied het om vir hulself ‘n inkomste te genereer. Hierdie vroue het behoefte gehad aan ‘n veilige omgewing vir die onderrig van hul kinders, en die SAVF Lappop kleuterskool het verrder hieruit ontstaan. Vandag, meer as twee dekades later, bly die Versorgingsoord steeds nie net standhoudend nie, maar ook voortdurend in groei.

Die primêre doelwitte van SAVF Lappop is om die gesonde fisiese, emosionele, sosiale, en kognitiewe ontwikkeling van kinders in ‘n veilige en sorgsame omgewing te bevorder. Die skool is trots daarop om ‘n sterk grondslag te lê vir die stimulasie van kinders, sodat hulle met bo-gemiddelde toelatingsvereistes primêre skole kan betree. Daarbenewens word daar klem gelê op die ontwikkeling van sterk morele waardes wat die kinders in hul toekoms sal dien.

Die kern van die bestuur se filosofie is toeganklikheid, inklusiwiteit, en ondersteuning vir werkende ouers. SAVF Lappop streef daarna om bekostigbare kindersorgdienste aan gesinne met beperkte finansiële middele te bied, en verseker dat alle kleuters, ongeag agtergrond of sosio-ekonomiese status, toegang het tot kwaliteit pre-primêre onderrig. Die instelling bied ook ‘n veilige hawe vir werkende ouers, wat hulle in staat stel om hul loopbane voort te sit of verder te studeer.

Die onderrig by SAVF Lappop sluit ouderdomstoepaslike aktiwiteite in wat vroeë leer stimuleer, soos lees, kuns en gestruktureerde speel. Die instelling sorg ook vir gebalanseerde etes en verversings, met twee etes wat daagliks aan die kinders voorsien word, naamlik ontbyt en middagete.

Die kleuterskool se groep bekwame onderwysers.

Related Articles

Back to top button