Local newsNews

Massiewe skade na brande in die Fochville-omgewing

Vee, voertuie en voer het onder meer verbrand.

Boere in die Fochville-omgewing het die gistermiddag en vanoggend geweldige skade as gevolg van veldbrande gely.

By die Sirkel A Boerdery op die plaas Weltevrede net verby die Crocodilian-afdraai het die De Villiers-familie gistermiddag meer as R10 miljoen se skade gelei.

“Dit is 30 jaar se harde werk wat in ‘n halfuur vernietig is. Ek sou net wou weet hoekom hulle dit gedoen het,” sê Armand De Villiers.

Hy het vandag ‘n saak van brandstigting by die polisie op Fochville oopgemaak na twee mans op fietse opgemerk is waar hulle na bewering net na 13:00 die veld op die plaas aan die brand gesteek het. Die brand, wat ongeveer dubbel so hoog as die plaashuis se dak was, kon as gevolg van die sterk wind die maklik gestop word nie en van die gesin se bakkies, plaasimplimente, store en voer sowel as baie weiding en onder meer 3 000 bale voer uitgebrand het. Infrastruktuur soos elektriese kabels is ook verwoes. Gelukkig is niemand beseer nie en net een bees het doodgebrand.

“Dit is meer as ‘n jaar se voer wat uitgebrand het. Ek sal my beeste moet verkoop want daar is nie meer voer vir hulle nie,” het De Villiers vanmiddag gesê.

Die vuur het egter vanoggend in die vroeë oggendure weer begin brand en na buurplase in die rigting van die South Deep-myn versprei.

Sover vasgestel kan word, is hier ook massiewe skade aangerig, waaronder 300 skape en bokke wat op Andre Badenhorst se plaas doodgebrand het. Ten minste drie werkers is ook deur die brande beseer.

Ander plase in die Palmietfontein-area is ook beskadig, maar het gelukkig nie naastenby sulke groot skade nie.

Sover vasgestel kan word, is nog sake van brandstigting na aanleiding van die veldbrande geopen.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button