Local newsNews

Bejaardes moet uitkyk vir skelms

Die polisie waarsku dat hierdie soort skelms baie slim is.

Ten minste twee bejaardes van ‘n aftree-oord in Carletonville is duisende rande kwyt na hulle moontlik deur slinkse swendelaars ingedoen is.

Die bejaarde vroue het agtergekom dat geld uit hul bankrekeninge weg is ná ‘n vrou hulle in die eerste week van Julie by die SAVF se Senatus aftree-oord oor ‘n nuwe soort spaar-kaart kom toespreek het.

Volgens die oord se bestuurder, Shaun Hicks, het die vrou, wat netjies in ‘n rooi T-hemp en jeans geklee was, glad nie verdag voorgekom toe sy kom vra het of sy met die bejaardes oor die nuwe spaar-kaart kan praat nie. Sy het gesê dat die inligting van al die bejaardes se ander spaar-kaarte, op dié een kaart gelaai word. Hulle sou dan net nodig hê om die een kaart met hulle saam met dra.

“Daar is baie sulke mense wat na Senatus toe kom met spesiale aanbiedinge wat die bejaardes kan help. Ek is daar vir die bejaardes en wil hulle graag help om geld te spaar. Die swart dame het glad nie verdag voorgekom nie en daar is ‘n ander vrou wat hier bly wat reeds dieselfde soort kaart het en dit lank sonder probleme gebruik,” sê Hicks.

Die vrou met die rooi T-hemp het met die bejaardes gepraat en hulle gehelp om die toepassing vir die nuwe-spaar kaart op hul fone te laai.

Volgens Hicks het een van die bejaardes se kleindogter, wat vir haar kom kuier het, ook uit haar eie goedheid van die bejaardes gehelp.

Hoewel die polisie sê dat twee vroue moontlik by die beweerde bedrog betrokke was, sê Hicks die een waarna van die bejaardes verwys, was waarskynlik dié meisie, en sy het niks met enige moontlike ongerymdhede te doen gehad nie.

Sover vasgestel kan word, het die twee bejaarde slagoffers, wat sover vasgetel kan word albei in hul 70’ is, eers die volgende dag agtergekom dat geld uit hul rekeninge weg is. Die een tannie wou gaan inkopies doen toe die sekerheidskode wat sy vir haar bankkaart ingetik het, keer op keer verkeerd was. Sy het toe eers agtergekom dat dit nie haar kaart is nie.

Die polisie in Carletonville ondersoek nou twee sake van bedrog, maar niemand is nog gearresteer nie.

“Moet nooit jou selfoon of bankkaart vir iemand anders gee nie. Indien jy ‘n oproep of boodskap kry dat iets met jou bankbesonderhede skort, gaan self in die bank in dat hulle jou daar help. Jy kan selfs ‘n foto neem van die amptenaar wat jou help. Dit is jou reg,” het ‘n polisie offisier gewaarsku.

Hy sê dat dit die eerste keer is wat bejaardes in Carletonville op dié wyse geld uit hul rekeninge verloor het. Ander inwoners is egter al deur mense verkul wat hulle op straat voorgekeer het en beweer het dat hulle vir ‘n selfoon diensverskaffer werk en kamstig gratis lugtyd op hul fone wou laai.

“Onthou net dat hierdie skelms baie intelligent is en jou maklik kan verkul. Moet hulle net nie die kans gee om dit te doen nie,” sê die offisier.

Related Articles

Back to top button