News

Biker-egpaar roerend gegroet

Bikers het Saterdag (9 September 2023) na die toneel van die ongeluk in ons buurdorp wat die lewens van Andre (46) en Sonika Schreiber (43) geëis het opgeruk en twee houtkruise daar geplant.

Die Biker-egpaar van Meyerton wat op 26 Augusts tragies gesterf het toe hulle in ‘n botsing reg van voor met ‘n bakkie op die Uitvlugt-pad betrokke was is Saterdag deur hul biker broers en susters met ‘n gedenkdiens by die Real Life Ministries gegroet.

Lede van talle motorfietsklubs het die geleentheid bygewoon.

Ná die tyd is die bikers in ‘n konvooi na die ongelukstoneel op die Uitvlugt-pad.

Daar het hulle twee houtkruise langs die pad geplant, een vir Andre “Scarface” Schreiber en die ander een vir Sonika “Sonskyn” Schreiber.

Bikers by ‘n gedenkdiens vir Andre en Sonika Schreiber. Foto: Christiaan Cloete

Andre se ma, Marion Schreiber, en sy 13-jarige seun, Jordan, het die gedenkdiens bygewoon.

André, president van die Vaal Toppies Bike Club, en sy vrou, Sonika, is opslag dood toe hulle in ‘n botsing reg van voor met ‘n Nissan Hardbody bakkie op die Uitvlugt-pad, naby die Midvaal-renbaan betrokke was.

Die ongeluk het glo omstreeks 18:00 gebeur toe die bestuurder van die bakkie blykbaar ‘n ander voertuig verbygesteek en in die rigting van aankomende verkeer beland het.

Schreiber en sy vrou het reg van voor met die voertuig gebots en is tydens die impak van die motorfiets af geslinger.

Die motorfiets het glo met impak aan die brand geslaan en ‘n brand op die ongelukstoneel veroorsaak.

Blomme en ‘n foto van Andre en Sonika Screiber. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Marion Schreiber, Andre se ma, was haar seun in minstens vyf motorfietsongelukke voor die noodlottige ongeluk wat hom en sy vrou se lewens geëis het.

Sommige van die ongelukke was ernstig en ander minder ernstig.

Sonika was in een van die ongelukke saam met hom betrokke.

Volgens vriende van Andre het hy die bynaam “Scarface” verwerf weens die letsels wat hy oorgehou het van vorige ongelukke.

Marius “Muis” van der Merwe, Andre Schreiber se biker broer, vertroos die oorledene se 13-jarige seun by die houtkruis wat vir Schreiber en sy vrou langs die Uitvlugt-pad opgerig is. Foto: Christiaan Cloete

Die twee was op die aan van hul dood blykbaar by die Henley WAM-fees (Henley Wine, Art & Music Festival) en was ongeveer 2km van hul huis af toe die ongeluk hul lewens geëis het.

Die biker-egpaar was vir die afgelop 12 jaar getroud.

Hulle was baie geliefde in die biker-gemeenskap.

Lees hier die volledige berig op die webwerf van ons susterkoerant Vaalweekblad:

Biker-egpaar roerend gegroet

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button