Local newsNews

Verslae maar vasberade na huis brand

'n Brand het hul huis verwoes, maar die Geyers weier om te gaan lê en staan nou op uit die as.

SASOLBURG. – Verslae. Geskok. Getraumatiseerd. Hartseer. Dit is van die warboel emosies wat die inwoners ervaar nadat hul huis Saterdag, 8 Maart gebrand het.

Chantal Geyer vertel hulle het in Midvaal by mense gekuier en sou die aand oorslaap. “Ek was egter die heel middag onrustig en angstig. Ek het nie geweet waarom nie, net gevoel ons moet liewer huis toe gaan.”

Moeilik om die produkte in die gebrande kruidenierskas te herken. Foto: Gerda Bruinette

Hulle was die aand omstreeks 19:30 by die huis en sy was besig om badwater vir die kinders te tap.

“Ek het iets geruik wat brand, maar my eers nie daaraan gesteur nie. Hier brand gereeld goed in die omgewing en die reuk was nie baie skerp nie.”

“Ek het so geskrik. Ek het nie eens gaan kyk nie, net dadelik uitgehardloop om my man, BJ en broer, Daniël te roep. Hulle was op pad om te ry en ek het hul net betyds gekeer,” onthou sy daardie verskriklike oomblik.

Hulle het dadelik die huis ingestorm, en probeer om die vlamme met die brandblusser te blus. Dit het ergter die vuur net vererger en hul moes vlug.

“Die vlamme het binne sekondes deur die huis versprei. Ek het buite die erf gaan staan en gehoor hoe bars die vensters,” vertel Chantal wat ‘n erge angsaanval gekry het.

Hul buurman het dadelik sy tuinslang oor die muur gegooi en sy boorgatpomp aangeskakel.

BJ het sy hand gesny toe hy ‘n venster stukkend geslaan het om die tuinslang deur die venster te kry.

Die brandskade in die gang. Foto: Gerda Bruinette

Die ambulansdienste was gou op die toneel waar hul vir Chantal behandel het en BJ moes later steke kry.

Die brandweer het wel opgedaag, maar het nie water gehad nie en dit het ‘n tyd geneem om die tenks by ‘n nabygeleë kerk vol te maak.

“Die kinders kon gelukkig by ‘n kinderhuis gaan slaap, maar ons het eers teen middernag rustig geraak. Die huis is onleefbaar verbrand. Ons het die nag tent opgeslaan, maar van slaap was daar nie sprake nie. Ons was te geskok,” beduie Chantal.

Die volgende dag het die nuus op sosiale media gebreek. Die ironie was dat baie mense Chantal gekontak het om haar te vra of hul goed vir die mense van die huis wat gebrand het vir haar kan bring. Sy is bekend daarvoor dat sy altyd ander help.

“Ek moes vir hul sê dis ons huis wat gebrand het. Jy weet, ons het 10 jaar gewerk om alles bymekaar te maak nadat ons voorheen van voor af moes begin. Hier is so baie goed van sentimentele waarde vernietig,” vertel sy hartseer.

Haar dogter van 14 het, onder andere, ‘n sagte speelgoed hasie gehad wat sy nog by Odette Schoeman gekry het een jaar tydens die Kersfeesliggiefees in Uniestraat.

“Sy was baie geheg aan die hasie veral nadat Odette oorlede is. Dit was die eerste ding waarna sy gevra het toe sy in die gebrande huis kom. Ongelukkig het die hasie op  haar bed gelê in die kamer waar die brand ontstaan het.”

Daar is nie sekerheid oor wat die brand veroorsaak het nie. Al wat op daardie stadium in die kamer aan was, was die dogter se horlosie wat ingeprop was om te laai in ‘n spesiale boksie.

Die vermoede is dat dit ‘n kortsluiting veroorsaak het. Ten spyte van al die trauma en skok, het die Geyers nie gaan lê nie.

Hulle het reeds 10 April begin om die huis te herstel. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir mense wat al vir ons donasies en boumateriaal geskenk het nie. Ons werk nou dag en nag om die huis weer leefbaar te maak.”

Die gesin saam met Chantal se broer en sy verloofde en ‘n vriendin bly nou in ‘n karavaan, ‘n tent en ‘n motorhuis op die erf. Net die helfte van die gebrande huis het tans elektrisiteit.

“Ons weet nie hoe lank ons nog gaan krag hê nie, want die meterboks het heeltemal gesmelt.”

Hul benodig onder andere sinkplate, dakbalke, plafonstroke en ander vensters op die stadium.

“Ons vervang soos wat ons kan. Mense het al teëls geskenk en ons kon die badkamer begin teël. Maar die dak moet vervang word en hul kan nie die elektrisiteit regmaak voordat die dak en dakbalke nie vervang is nie.”

Naas fisiese boumateriaal benodig hul ook hulp met die werk self. BJ moes hierdie week weer by sy werk inval nadat hul hom verlede week spesiale verlof toegestaan het.

“Ons werk tot baie laat in die aande. Die manne probeer die huis regmaak, en ons vroue kyk wat ons kan red van die klere en gordyne. Alles het rookskade,” sê Chantal.

Indien daar mense of besighede is wat kan help, kontak Chantal by 079 662 9195.

Verslae maar vasberade na huis brand

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button