Local newsNews

Seun besef met skok dit was sy vermiste pa in brandende kar

"Tiaan het net een keer na die kar op Vaalweekblad se foto gekyk en dadelik begin huil want hy kén daardie Golf," sê sy vrou.

‘n Jong man wat vermoed het dat sy vermiste pa dalk tydens die onlangse watervloede meegesleur is, het Donderdag met skok verneem dat sy pa op 27 Februarie na ‘n fratsongeluk in sy brandende voertuig gesterf het.

Vaalweekblad het verlede week berig dat ‘n donkersilwer Golf 5 die vorige Maandagmiddag naby die Houtkopbrug in Vereeniging uitgebrand het – met die bestuurder steeds vasgekeer agter die stuur. Die ongeluk het gevolg nadat ‘n band van die voertuig vermoedelik op die R59-snelweg gebars en die kar van die pad af geloop het. Die Golf is teen die skuinste af en het meters ondertoe langs die R82-roete in vlamme uitgebars. Omstanders moes magteloos toekyk hoe die voertuig totaal uitbrand sonder dat hulle die bestuurder, wat aanvanklik nog geleef het, kon bevry.

Daar is agterna vasgestel dat die Golf aan mnr. Jan Barnard Pretorius (46) behoort het, maar dit was in daardie stadium nog nie seker of hy die betrokke dag die bestuurder was nie. Die polisie kon sy naasbestaandes ook nie in Vanderbijlpark by die adres op die kar se registrasiedokumente, opspoor nie.
Onbewus van die ongeluk het wyle mnr. Pretorius se volwasse seun, Tiaan, intussen bekommerd geraak omdat hy sy pa vir meer as ‘n week nie kon opspoor of op sy selfoon kon bereik nie.

Nadat hy sy pa dae lank by verskeie hospitale en ander moontlike plekke gaan soek het, het hy hom as vermis aangemeld. Volgens aanvanklike inligting is mnr. Pretorius se voertuig die laaste keer tydens die oorstromings in die Rietspruit-gebied gesien, wat sy naasbestaandes laat vrees het dat hy dalk saam met sy motor weggespoel het. Hulle het toe nog nie geweet dat hy die Maandagmiddag nie naby die Rietspruit was nie, maar op die R59-snelweg op pad Nigel toe, toe die fratsongeluk sy lewe geëis het.

Dit was eers toe Tiaan Donderdag die foto van die uitgebrande Golf in Vaalweekblad sien dat die wrede waarheid hom getref het. Tiaan se vrou, Jesse, sê hulle het met skok besef die kanse is goed dat dit mnr. Pretorius was wat in die brandende wrak gesterf het. “Tiaan het net een keer na die kar op Vaalweekblad se foto gekyk en dadelik begin huil want hy kén daardie Golf,” sê sy.

Wyle mnr. Pretorius, wat al etlike jare ‘n wewenaar was en in Vaalpark gewoon het, het in Vanderbijlpark grootgeword en in 1995 aan die HTS Carel de Wet gematrikuleer. Hy het ‘n staalwerk- en konstruksiebesigheid, JB Projects, saam met Tiaan in Vaalpark bedryf. Mnr. Pretorius word buiten Tiaan ook deur ‘n dogter en twee kleinkinders oorleef. Volgens Jesse, sy skoondogter, was hy ‘n aangename soort mens wat baie lief was vir musiek en graag gekuier het.

Kaptein Fikile Funda, woordvoerder van die Polisie in Vereeniging, het by navraag aan Vaalweekblad bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag na aanleiding van mnr. Pretorius se dood geopen is. Hy is op die ongelukstoneel deur ER24 dood verklaar en sy liggaam is vir verdere ondersoek na die staatspatoloë geneem. Twee troosdienste word beplan: Een vir sy vriende en familie in die Vaaldriehoek en een vir sy naasbestaandes in Nigel.
* Mnr. Pretorius se selfoon en skootrekenaar waarop baie van JB Projects se kontrakte en hul kliënte se kontakbesonderhede was, het saam met die motor uitgebrand. Tiaan doen ‘n beroep op hul kliënte om hom asseblief by 068 400 2636 te kontak omdat heelwat inligting nou verlore is.

Wyle mnr. Jan Barnard Pretorius.

Die toneel van die brand op 27 Februarie 2023

 

Lees die voorafgaande berig oor die ongeluk hier:

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button