Local newsNews

Polisie soek bestuurder wat seun (5) op fiets raakry

Die seun het ernstige kopbeserings opgedoen en is na 'n plaaslike hospitaal geneem waar hy in 'n kritieke toestand is.

Die polisie is op soek na die bestuurders van ‘n silwer Mercedes-sedan en ‘n bakkie na ‘n vyfjarige seun op Saterdag, 18 Februarie, van sy fiets afgestamp is.

Die seun het ernstige kopbeserings opgedoen en is na ‘n plaaslike hospitaal geneem waar hy in ‘n kritieke toestand is.

Volgens Noordwes polisiewoordvoerder, kol. Adele Myburgh, het die ongeluk omstreeks 22:50 net buite Potchefstroom op die Mooibankpad gebeur.

“’n Pa en sy vriend het twee fietse gestoot, terwyl ‘n vyfjarige seun op die raam van een van die fietse gesit het. Na bewering het ‘n silwer Mercedes-sedan van agter af gekom en die fiets gestamp waarop die kind was,” verduidelik Myburgh.

Die bestuurder van die Mercedes Benz het nie ná die botsing stilgehou nie en weggery met ‘n bakkie wat reg agter hom gery het.

Myburgh bevestig dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.

Die polisie versoek enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help om die ondersoekbeampte, ao Koos van der Merwe by Sel: 079 731 0843 of die plaaslike polisiestasie te kontak.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button