Local newsNews

Bekende sakeman verloor sy stryd na lang siekbed

"Die mediese personeel het vier maande lank alles in hul vermoë gedoen, maar hy het sy stryd op 9 Februarie in Vereeniging Mediclinic verloor."

Familie en vriende van wyle mnr. Hannes Loots (74) van Sasolburg het hom hierdie week ‘n laaste keer gegroet, maar die talle geboue wat hy in die dorp help oprig het, gaan inwoners nog dekades lank aan dié sakeman met sy groot hart herinner.

Mnr. Loots was ‘n seun van nege jaar toe hy in 1957 vanaf Pretoria saam met sy ouers na Sasolburg verhuis het. Hy het die grootste deel van sy skoolloopbaan hier deurloop, behalwe vir sy matriek, wat hy aan Elandspoort voltooi het.

“Sy droom was om werk te skep en deur die jare het hy geweldig baie vir Sasolburg gedoen,” sê sy weduwee, mev. Rina Loots, met wie hy 53 jaar getroud was.
Hy het mettertyd sy sakeondernemings, J.G. Loots & Seuns Vervoer en Sandwerke, en Big L Readymix geopen en was betrokke by die oprigting van verskeie meenthuiskomplekse, skole, kerke, sake- en fabrieksgeboue in die omgewing.

“Dit was waarlik baie interessante jare. Ons was ook bevoorreg om aan die Gautreinprojek deel te neem. Hannes het deur die jare ook talle jong entrepreneurs wat finansieel gesukkel het, gehelp om op die been te kom,” sê Rina.

Mnr. Loots het verlede jaar ‘n driedubbele hartomleiding gehad en twee weke daarna ‘n pasaangeër ontvang. Hy is met net een long gebore en sy suurstofinname was van die begin af ‘n groot uitdaging. Sy niere en lewer het mettertyd ook ingegee.

“Die mediese personeel het vier maande lank alles in hul vermoë gedoen, maar hy het sy stryd op 9 Februarie in Vereeniging Mediclinic verloor. Alle dank aan ons Hemelse Vader wat ons in dié moeilike tyd gedra het. Baie dankie ook aan ons vriende, kennisse en familie vir hul vertroosting. Dit word opreg waardeer,” sê Rina.

Wyle mnr. Loots word buiten sy vrou ook oorleef deur sy seun Kobus en skoondogter Winnie, kleinseun Hannes en sy vrou Lucindy, kleindogter Berna en haar man Morné, sowel as drie agterkleinkinders. Wyle mnr. Loots se sakeondernemings sal deur die familie voortgesit word.
Sy groetdiens is Donderdag, 23 Februarie, by die NG Fonteine-gemeente in Van Wouwstraat, Sasolburg gehou.

Bekende sakeman verloor sy stryd na lang siekbed

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button