Local newsNews

Wayne Lendrum, die groot biker met die groot hart

Wayne Lendrum van Meyerton en sy blou driewiel motorfiets is 'n bekende gesig in die Vaaldriehoek. Lees meer oor sy merkwaardige storie en hoe hy hom deur niks laat onderkry nie.

Wayne Lendrum is alombekend as die biker met die blou driewiel motorfiets.

‘n Groot man met ‘n malvallekkersagte hart. Hy lag maklik en sy glimlag weerspieël in sy oë.

Moeilik om te glo dat agter die breë glimlag baie pyn en trauma opgesluit lê.

Nie dat hy hom nog ooit laat onderkry het deur enige seer of terugslae nie. “Die lewe skuld my niks nie,” beduie hy.

Self is sy dag gemaak as hy net een ander persoon kan laat glimlag of beter voel.

Wayne Lendrum by sy blou driewiel wat hy spesiaal laat aanpas het toe sy been geamputeer moes word. Foto: Gerda Bruinette

“Jy weet dis mos soos wanneer ‘n mens ‘n spesifieke motor ry, skielik sien jy kort-kort een op die pad. So is dit met my, ek sien iemand met ‘n geamputeerde been op ‘n afstand raak en dan moet ek eers gaan gesels.”

Wayne se prostetiese been blink in die son. Dis spesiaal vir hom gemaak met die logo en kleure van die Valhalla Vaal MC waarvan hy president is.

Hy het die eerste keer sy knie gebreek nadat hy met ‘n veldmotorfiets (‘dirt bike’) op ‘n plaas in ‘n boom vasgery het, meer as twintig jaar gelede.

Die knie is met plate en skroewe geheg en Wayne kon aangaan.

Twee jaar later was hy egter in ‘n ongeluk met ‘n werksvoertuig en is sy knie vergruis. Hy het ‘n knievervanging gehad.

In 2008 is Wayne se been aan die onderkant vergruis toe hy in ‘n botsing reg van voor betrokke was.

In die tyd het hy infeksie in die knievervanging gekry wat nie wou genees nie. Vir jare het daar voordurend vuilgoed uit die wond by sy been gevloei.

“Mense het gedink ek het een of ander aansteeklike siekte. Ek het onttrek van alles en almal,” onthou hy daardie donker jare.

Eindelaas is daar besluit om die hele knie te verwyder en anti-bakteriese sement in te spuit. Dit het nie gewerk nie en die pyn het vererger.

Op ‘n stadium is hy in ‘n staatshospitaal in Bloemfontein opgeneem. Vir ‘n week het hy daar gelê in pyn met die hospitaal wat slegs panado’s en geen antibiotika voorsien het nie.

“Tot op ‘n dag wat die been ontplof het. Die hele bed was vol bloed, etter en vuilgoed. Ek het in daardie vuil lakens bly lê. Dit het vir my gevoel asof die wêreld van my vergeet het,” onthou hy.

Hy het gou besef dis glad nie die geval nie. Sy mede-bikers het van die situasie gehoor en dadelik begin fondse insamel.

Hulle het ook ‘n voertuig waarvan die sitplekke kon platslaan Bloemfontein toe gestuur en hom letterlik uit die hospitaal gesmokkel.

Die bikers het die Wayne’s Way Fondsinsameling begin en genoeg geld bymekaar gemaak sodat hy behandeling by ‘n privaat hospitaal in Pretoria kon ontvang.

Teen September 2017 moes hy die moeilike besluit neem om sy been te amputeer of dit permanent styf te maak.

Hy het besluit op amputasie.

“Ek het vooraf al my motorfiets omskep in ‘n driewiel, sodat ek na die amputasie weer kon ry.

“Kyk, hulle het die Donderdag my been geamputeer en teen die Sondag het ek in die dorp rondgery.” Hy lag lekker.

“Die fisioterapeut moes vooraf betaal word, maar toe sy my in die hospitaal besoek die oggend na die amputasie, was sy verstom om te hoor ek was al tot by die restaurant en terug. Sy het die geld terugbetaal.”

Dan raak hy ernstig. “Die hele proses was baie moeilik, maar ek het ook die regte mense ontmoet en het ‘n ander insig op die lewe gekry.

“Ek het besef daar is nog mense met goeie harte. Hulle het my gehelp en nou help ek ander.”

Wayne sê hy kan nie vir mense geld gee nie, maar hy kan luister en fisiese en emosionele ondersteuning bied.

“Ek het baie om voor dankbaar te wees. Dit gaan goed,” vertel hy.

Wayne het 10 jaar gelede ophou drink. “Drank was my wegkruipplek, maar ek het besef drank maak alles net erger.”

Sy drie kleinkinders, Keegan, Caleb en Skyler is sy hart se punt, sy dogter Monique en sy seun, Matthew is sy trots en hy is baie lief vir sy ander helfte, Chantel Wolfaart.

Na al die seer en trauma is hy vandag ‘n positiewe rolmodel vir baie.

“Ek het net besef ‘n amputasie is nie die einde van die pad nie. Life is beautiful,” glimlag hy en mens kan sommer sien hy pak elke dag met oorgawe aan.

Wayne Lendrum, die groot biker met die groot hart

Related Articles

Back to top button