News

Zoë vier een jaar van haar nuwe lewe

Diereliefhebbers wat omgee, kan net soos in hierdie besondere verhaal ook weer sterte in ons eie omgewing laat waai.

Zoë, die labradorkruising se lewe het rof begin, maar vandag is sy die toonbeeld van geluk en gesondheid.

VEREENIGING. – In Februarie 2023 het ‘n inspekteur van die DBV Vereeniging & Vanderbijlpark ‘n jong labrador-kruising uit haglike omstandighede gered.

Die Get Up and Go Omgee Vriendegroep het saam met die Emdens en Zoë die DBV besoek. Van links is Dawie Roux, Lettie Swanepoel, Marlien de Klerk (DBV), Lynne Emdin, Elouise Carelse (DBV), Zoë, Cousin Rick en Johan Botes.

Die hondjie is met kookwater gebrand, haar stert is met ‘n rekkie laat afvrot en sy was in die warm son aan ‘n kort ketting vasgemaak. Die inspekteur het die hond gegryp en is in die proses selfs deur die huiseienaar aangerand.

Maar, sy het daarin geslaag om klein Zoë te red. Na baie trauma en siek wees het Zoë haar vir altyd huis by Rick en Lynne Emden gevind.

Ifm 102.2 luisteraars ken haar verhaal goed. Haar mense-pa is nie verniet ‘n radio omroeper nie. 24 Februarie, op Lynne se verjaardag, was Zoë presies ‘n jaar by die Emdens.

Elouise Carelse en Johan Botes met die koek wat Johan spesiaal vir Zoë gebak het.

Die groot dag is Maandag behoorlik gevier toe Zoë saam met die Emdens en lede van die Get Up and Go Omgee Vriendegroep by die DBV gaan kuier het.

Daar is katkos en speelgoed aan die DBV oorhandig asook die geld wat onlangs met Fishing 4 Pets ingesamel is.

Johan Botes het spesiaal vir Zoë en Lynne ‘n verjaardagkoek gebak en Zoë het lekker saamgeëet, hoewel sy roomys sou verkies het. Softserve op ‘n horinkie is haar gunsteling lekkerny.

Haar dae van swaarkry is vir goed verby. Vir Rick en Lynne is sy soos ‘n kind in die huis. Hier en daar het sy fisiese letsels oorgehou, maar andersins gaan dit uitstekend met Zoë.

Sy kom met mens en dier oor die weg en geniet om saam te ry as die wiele draai en na diere op die TV te kyk. Dan sien sy ook uit na haar eerste seevakansie. Sy kan nie wag om in die branders te gaan baljaar nie.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/news/2024/03/04/zoe-vier-een-jaar-van-haar-nuwe-lewe/?fbclid=IwAR02toLOrUvEghH3m9funbNv7SSJLbINrFfdQzEqFA1so7XN2P4F3Pph0eI

Indien inwoners van ons omgewing dalk ‘n nuwe huis aan ‘n dier in nood wil gee, kan hulle die Carletonville DBV by 018 788 6262 skakel of hul hokke in Beersterstraat in Oberholzer besoek.

Related Articles

Back to top button