Local newsNews

AfriForum Nasionaal wil nou ook hof toe oor Merafong se waterkrisis

Verskeie organisasies beplan hofaksies oor ons waterkrisis.

AfriForum se nasionale struktuur will ook nou tot die stryd toetree om water vir inwoners van die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit te verseker.

Volgens die voorsitter van AfriForum se Fochville-tak en voorsitter van die Concerned Citizens of Fochville, mnr Jaco van der Merwe, het hy vanoggend van hierdie burgerregteorganisasie se hoofkantoor gehoor dat hulle ook hof toe gaan om te verseker dat inwoners nie heeltemal sonder water gelaat word soos die afgelope week nie. AfriForum se hoofkantoor het besluit om tot die regstryd teen Rand Water toe te tree omdat verskeie ander dorpe in die land, soos byvoorbeeld Brits en Parys, dieselfde probleme het.

AfriForum se Fochville-tak beplan egter ook steeds om met die hulp van ‘n prokureur wat al ander munisipaliteite met soortgelyke probleme gehelp het, mnr. Andreas Peens, Woensdag oor die probleme hof toe te gaan.

Van der Merwe noem ook dat inwoners die reg het om te vra vir rekeninge en hul maandelikse betalings aan die munisipaliteit tydelik kan terughou tot die munisipaliteit vir hulle ‘n rekening kan gee.

Intussen is ‘n ander plaaslike organisasie, die Merafong Ratepayers Association, ook reeds met regstappe teen Rand Water besig.

“Ons gaan waarskynlik Hooggeregshof toe gaan en verwag dat Rand Water die probleem na die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit toe gaan terugverwys. Indien dit gebeur, sal die saak net teen die munisipaliteit aangaan,” sê die organisasie se voorsitter, mnr. Herman Groenewald.

Inwoners wat die Merafong Ratepayers Association se aksie wil ondersteun deur lede te word óf geld vir die aksie te skenk, kan Van der Merwe Peché Prokureurs in Fochville se kantore besoek of kontak.

Diegene wat die Concerned Citizens of Fochville se aksie geldelik wil ondersteun, kan donasies in die Capitec spaarrekening met die nommer 2079516791 en die takkode 470010 inbetaal. Hulle kan hul selnommer as verwysing gebruik.

‘n Wyksraadslid van Carletonville, mnr. Carl Steenekamp, het ook die afgelope naweek privaat regshulp oor die waterkrisis gekry.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button