Local newsNews

Steeds geen antwoorde oor waterprobleem nie

Inwoners van Carletonville is boos omdat hulle reeds vir twee dae sonder water sit.

Die watertoevoer na die meeste van die dorp se huise het vroeg gisteroggend probleme begin gee na ‘n waterpyp van Rand Water langs die P111 gebars het.

Hoewel die pyp volgens Rand Water al gistermiddag omstreeks 12:00 herstel is, het die meeste inwoners steeds nie water nie.

Sommige mense kla selfs dat hoewel hulle op ‘n kol water in hul huise gehad het, dit later gestop het.

Die munisipale bestuurder, mnr. Dumisani Mabuza, het aan raadslede van opposisie partye gesê dat hy vroeër vanmiddag met amptenare van Rand Water oor die probleem sou vergader. Dié raadslede is voortdurend besig om antwoorde van Mabuza en ander munisipale amptenare oor die probleem te probeer kry.

Hoewel ‘n brief van Rand Water versprei word waarin die munisipaliteit op 24 Januarie ingelig is dat ons watertoevoer na 30 dae met 20% gesny sal word omdat die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit Rand Water meer as R838 miljoen skuld omdat die munisipaliteit gereeld nie sy rekening betaal nie, is dié tyd egter nog nie om nie aangesien nog net 25 dae verstryk het sedert die brief na die munisipaliteit gestuur is.

Rand Water het ook al in die verlede ons watertoevoer met 30% gesny, veral aan die begin van die reënseisoen wanneer hul reserwes laag was. Dit het egter nog nooit vantevore só ‘n groot uitwerking op ons watertoevoer gehad nie.

Iets anders wat ook vrae skep, is hoekom sommige inwoners, soos byvoorbeeld in ‘n deel van Oranjestraat, wel water het terwyl ander se krane reeds van gister af heeltemal droog is.

Selfs Fochville het gister met tye nie water gehad nie.

Die Herald het ook die munisipaliteit gekontak om te probeer uitvind wat werklik tot die waterprobleem lei en wanneer dit opgelos sal word. Geen antwoorde is egter tot dusver ontvang nie.

Hoewel die munisipaliteit kort vantevore ‘n persvrystelling oor die probleme uitgereik het waarin hul onder meer belowe om water met tenkwaens aan inwoners te verskaf, gee dit steeds geen duidelike antwoorde oor wat tot die probleem gelei het nie.

Lees die persvrystelling hier:

 

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button