NewsSport

Staatmaker fotograaf blaas sy laaste asem uit

Die fotograaf, Mario van de Wall, het diep in talle mense se harte gekruip – op en van die sportveld af was hy daar om ‘n bydrae in mense se lewens te maak.

Een van Potchefstroom se staatmaker sportfotograwe, Mario van de Wall, is vroeg vanoggend (Sondag, 12 November) na ‘n siekbed aan diabetes oorlede.

Van de Wall het diep in talle mense se harte gekruip – op en van die sportveld af was hy daar om ‘n bydrae in mense se lewens te maak. Weens die diabetes, is albei sy voete ook onlangs geamputeer.

Die 62-jarige Van de Wall het vir jare ikoniese sportoomblikke in Potch met sy lens vasgevang. Hy was gereeld op die sportveld en terwyl sy siektetoestand verswak het, het hy nog steeds alles gegee om die aksie op die veld af te neem. Opgesom, was hierdie besonderse man diensbaar tot sport.

Hy het as nuusfotograaf gewerk vir Die Volksblad en daarna vir Beeld voordat hy vryskut gegaan het.

Hy het ook gereeld foto’s vir die Potchefstroom Herald as vryskut bygedra en goed bekend onder redaksielede. Hy was ook tot en met sy afsterwe deel van die Luiperds Rugbyunie as hul fotograaf.

In ‘n onderhoud wat die Herald met hom in 2017 gevoer het, vertel hy meer oor wat sy lewensfilosofie was.

Mario van de Wall was bekend langs die sportvelde van Potch. Foto: Marianke Saayman

“Mens moet die lewe geniet en die humor daarin kan sien, maar dis nie te sê die lewe is ’n grap nie. Genot en humor is wat die lewe mooi maak.”

Buiten sy sportfoto’s was hy ook ‘n veelsydige fotograaf en videograaf wat troues, funksies en allerlei tipes foto’s kon afneem.

Dit was juis sy medemenslikheid, glimlag en positiewe persoonlikheid wat mense sal onthou.

“Hy het vreeslik geworstel oor die voete se amputasie, maar het vrede gehad voor hy oorlede is.  Sy sussie, Eslé en sy ma was gistermiddag by hom en toe wys hy vir hulle hoe hy sy een been amper tot teen sy bors kon optel,” vertel sy vrou Phoebe.

“Hy het absoluut geleef vir sy foto’s. Dit was sy passie. Hy het net in Nikon kameras geglo, niemand sou hom ooit kon oorreed om ‘n ander maak te koop nie. Hy was baie trots op sy twee mannetjies (Giovanni en Marco), het altyd vir almal vertel van hulle landloop en hulle prestasies,” noem Phoebe verder.

Hier is van Mario van de Wall se top sportfoto’s deur die jare:

Hy was ‘n wonderlike pa en man en het voluit vir die Here gelewe.

Die Herald sal Van de Wall se gedenkdiensreëlings deurgee sodra dit vasgestel is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button