Local newsNews

Man (80) oorleef honderde bysteke

Die spoedige optrede van ‘n groep mense by Kleinplaas net buite Potchefstroom en die ingryping van die nooddienste, het verseker dat ‘n 80-jarige man Donderdag, 14 September ‘n aggressiewe bye-aanval oorleef het.

Die spoedige optrede van ‘n groep mense by Kleinplaas naby Potchefstroom en die ingryping van die nooddienste, het verseker dat ‘n 80-jarige man Donderdag, 14 September ‘n aggressiewe bye-aanval oorleef het.

Die voorval het omstreeks 10:00 gebeur.

Die een oomblik het Eben Boshoff nog saam met twee van sy werkers bourommel afgelaai, maar toe hy weer kyk, was hy deur ‘n swerm bye oorval en moes hy om sy lewe veg. Een van die werkers het per ongeluk rommel op die byenes gegooi wat in ‘n leë motorband in die veld gelê het.

Eben Boshoff (80) is dankbaar dat hy hulp tydens die bye-aanval gekry het.
“Ek het geskree ‘help help’ en gewaai en op my ouderdom probeer weghardloop, maar ek is nie so vining soos my werkers nie. Gelukkig het alles deur die Here se genade saamgeloop dat daar ‘n paar wonderwerke gebeur het,” vertel Eben die afgelope Vrydag, slegs ‘n dag na die aanval.

Ryno Verster, eienaar van Kleinplaas Sports Arena, Carien Venter, eienaar van Olive Garden en Shaun Leach, eienaar van Le Tour Cycles het in ‘n kwessie van vyf minute saamgespan en vir Eben gehelp om die bye af te weer en mediese hulp te kry.

“Die oom het gelyk soos een van daardie byeboere met ‘n hele swerm bye om hom. Dit was regtig erg, maar gelukkig was Shaun buite besig om sy fietse met ‘n hoëdruk spuit af te spuit. Shaun het die oom toe daar buite afgespuit om die bye van hom af te kry. Sodoende kon ons die bye onder beheer kry sodat oom Eben saam met Carien na die dokter toe kon jaag,” vertel Ryno.

Carien het vir Eben na Netcare MediCross Potchefstroom geneem, maar glo weens ‘n gesukkel met vorms wat hy nie sonder sy mediese fonds se kaart kon invul, is hulle ontevrede uit die ontvangsarea uit. MediCross Potchefstroom se kliniekbestuurder, Eva Michen, het die voorval bevestig en staaf dat pasiëntveiligheid altyd eerste by Netcare Medicross Potchefstroom kom en dat die noodsituasies van pasiënte altyd prioritiseer word.

“Die twee mans wat met bysteekbeserings by ons kliniek opgedaag het, het nie gelyk of hulle in nood was nie en daar was geen aanduiding van ‘n mediese noodgeval nie. Ons ontvangspersoneel het dus die roetineproses onderneem om hul persoonlike inligting vir ons pasiëntrekordstelsel in te samel,” noem Michen. Volgens haar het een van die mans (Eben) gevra of hy sy mediese fonds kan gebruik om sy werker se kostes te dek, en die personeel het toe genoem dat dit nie toelaatbaar is nie.

Eben Boshoff, tweede van links het ‘n bye-aanval oorleef danksy die helde langs hom wat hom gehelp het. Shaun Leach (heel links) het die bye van hom afgespuit, Carien Venter het met hom dokter toe gery en Ryno Verster het die nooddienste geskakel. Foto’s: Wouter Pienaar.
“Op hierdie stadium het hy sy ontevredenheid uitgespreek oor die feit dat hy vorms moes invul en begin wegstap. Ons personeel het aangebied om te help met die vorms, maar hy het verkies om op hierdie stadium te vertrek,” verduidelik Michen.

Carien noem dat sy baie gespanne na die gesprek met personeel by MediCross was, omdat Eben toe nog nie behandeling gekry het nie. “Ek het toe weer vir Ryno gebel en hy het toe sy kontak (Louise Viviers) gebel en binne ‘n minuut was ER24 nooddienste op die toneel om mediese hulp te bied. “As dit nie vir ER24 was nie, dan was dinge dalk baie anders,” vertel Carien.

Eben Boshoff (80) se gesig is nog opgewel nadat hy deur honderde bye oorval is.
Michen voer ook in dieselfde asem aan dat een van MediCross se kliniese verpleegsters ‘n rukkie later hulp wou aanbied, maar dat paramedici genoem het dat die situasie teen daardie tyd onder beheer was. Volgens Eben was die bye baie aggressief en al is hy nie allergies nie, was sy lewe steeds in gevaar aangesien hy baie opgeswel het en baie pyn ervaar het. Eben het verlede Vrydag genoem dat sy lyf nog seer was na die voorval, maar nietemin het hy weer met sy normale take aangegaan.

“Ek is baie dankbaar vir die nooddienste wat my so goed soos enige dokter behandel het. Hulle het al die angels uitgetrek, my bloeddruk getoets en seker gemaak ek was in ‘n stabiele toestand voordat hulle my Potchefstroom Hospitaal toe geneem het. Nadat ek medikasie ontvang het, is ek later daardie middag teen 15:00 ontslaan. Alles was in die Vader se hand,” noem Eben.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button