News

200 dae na kankerdiagnose wag groot uitdagings steeds op Danika

Sy het tussen 12 Junie en 24 Julie reeds 30 keer bestraling oor haar brein en rugstring ontvang.

MIDVAAL. – Dit is hierdie week 200 dae sedert ‘n jong inwoner van ons buurdorp, klein Danika van Tonder, in Februarie vanjaar met Stadium 4-kanker gediagnoseer is. Dit is tot dusver ‘n uitmergelende reis wat haar ouers, André en Christine van Tonder, geen kind of ouerpaar toewens nie.
Danika het in Januarie met groot opgewondenheid haar Graad 1-jaar by die Laerskool Risiville begin, voordat sy in Februarie siek geword het.

Sedert sy op 23 Februarie met medulloblastoma gediagnoseer is en op 8 Maart haar eerste operasie ondergaan het om die breingewas, so groot soos ‘n appel, te verwyder, het dié dapper dogtertjie en haar ouers reeds deur diep waters gegaan.

Haar eerste operasie was ‘n teaterprosedure van sewe ure. Vir haar ouers was dit ‘n senutergende beproewing want hulle het geweet daar was ‘n moontlikheid dat sy nie lewend uit die teater sou kom nie omdat die gewas wat verwyder moes word, so na aan haar breinstam was. Haar ouers glo tot vandag toe dat die duisende mense wat daardie dag vir Danika en die dokters gebid het, sukses verseker het. Die gewas is 100% verwyder. Danika was egter nie ongeskonde nie: Sy kon na die operasie nie meer praat of loop nie en was weer soos ‘n pasgebore baba wat niks vir haarself kon doen nie.

Intussen het Danika vanaf 12 Junie tot 24 Julie reeds 30 keer bestraling oor haar brein en rugstring ontvang. “Dit was bitter erg. Sy het daarna bloedoortappings en bloedplaatjies ontvang omdat haar eie bloedtellings so kommerwekkend laag was,” sê André.

‘n Nuwe probleem is dat die “shunt” tans te veel vog van haar brein af laat dreineer, wat kneusing op albei haar breinlobbe veroorsaak. Dit kan tot permanente breinskade of selfs terminale skade lei en sy sal binnekort weer ‘n operasie moet ondergaan om die “shunt” te vervang. Dit kan tans nie gedoen word nie omdat die dokters nie haar chemoterapie wil onderbreek nie. Sy het reeds vier sessies chemo deurloop, wat elk oor ‘n tydperk van 3 dae en 6 ure toegedien word. Sodra sy sterker is, gaan haar vyfde sessie begin. In totaal moet sy ses sulke sessies ontvang.

Volgens André het Danika in die afgelope maande weer leer loop en praat, maar dit gaan nog moeilik. Sy sukkel steeds met haar balans en spraak. Haar regterkant is nog baie lam en haar linkeroog gee baie probleme. Sy het ook haar pragtige lang hare verloor, maar dit behoort vinnig terug te groei wanneer die intensiewe behandeling verby is.

“Hierdie is ‘n stryd wat ons vir geen mens toewens nie. Die laaste 14 weke het ek net twee weke gewerk, so ‘n inkomste was daar nie, maar ons is deur dit en darem nog hier. Ons weet nog nie wat voorlê nie. Ons weet net die pad is nog bitter lank. Danika kry baie swaar en is baie moeg die laaste tyd. Haar twee boeties van 10 en 4 jaar vat dinge ook swaar want ons hele wêreld is omgegooi,” sê André, wat ‘n loodgietersbesigheid het en die hoofbroodwinner van sy gesin is.

“Ons is soms baie moedeloos want dit voel asof daar net heeltyd iets is wat skeefloop,” sê hy.
Die gesin het nie ‘n private mediese fonds nie en is afhanklik van staatsbehandeling, wat by drie verskillende hospitale aan die Rand verskaf word. Buiten dat brandstof duur is, laat dit ook min tyd toe vir André om aandag aan sy sakeonderneming te gee.

* Enigiemand wat Danika en haar gesin geldelik wil bystaan, kan ‘n inbetaling doen aan A. van Tonder, Standard Bank Vereeniging, rekeningnommer: 282004726 (tjek).

“Die belangrikste wat ons vra, is dat almal asseblief moet aanhou bid vir ons dogtertjie … vir volle genesing en ‘n vol lewe,” sê André.

 

Sien die volledige berig op die webwerf van ons susterkoerant Vaalweekblad hier:

200 dae na kankerdiagnose wag groot uitdagings steeds op Danika

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button