Local newsNews

Na ‘n hele jaar is Trompie terug tuis

Die Van der Heever-gesin het na ‘n jaar se soektog weer hul geliefde hond, Trompie, aan hul sy nadat hierdie twee-jarige Staffie op Maandag, 4 September ‘n onverwagse terugkeer gemaak het.

Die Van der Heever-gesin van Potchefstroom het na ‘n jaar se soektog weer hul geliefde hond, Trompie, aan hul sy nadat hierdie twee-jarige Staffie op Maandag, 4 September ‘n onverwagse terugkeer gemaak het.

Trompie het sommer so op sy eie na sy huis teruggekeer, in die huis geloop en op sy gunsteling bank gaan lê asof niks gebeur het nie.

Trompie op sy gunsteling rusbank.

Trompie se eienaar, Willie van der Heever, vertel dat hy sy oë nie kon glo nie toe sy vrou, Karen, vir hom Whatsapp-boodskappe en ‘n foto stuur dat hy terug is.

“Ek was besig met ‘n vergadering in Abu Dhabi toe ek my vrou se boodskappe kry. Ek het eers nie lekker verstaan wat aan die gang is nie. Ons is so bly hy is terug by ons,” vertel Willie.

Die vriendelike en rustige, Trompie (2) is weer terug by sy familie.

Trompie het in Augustus 2022 weggeraak  en na ‘n uitgebreide soektog van PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society), die gemeenskap en talle plasings op sosiale media (Potch Pets-Facebookgroep) kon hul vir ‘n hele jaar nie hierdie geliefde hond opspoor nie.

“Almal het gesoek maar ons kon hom net nie kry nie,” onthou Willie, wat ook ‘n groot beloning geoffer het om vir Trompie weer tuis te kry.

Karen het Maandag in haar kantoor van die huis af gewerk en haar honde vreeslik hoor blaf.

“Ek het gekyk, maar niks gesien nie en aangegaan met my werk. Daar het toe ʼn boodskap van Tannie Elsa op ons buurtgroep verskyn dat daar ʼn welversorgde bruin hond in die straat is met littekens onder sy oë. Trompie het toe hy jonk was operasies ondergaan om velle weg te sny wat onder sy oë was. Ek het toe geweet dat dit moontlik Trompie kon wees,” vertel Karen.

Willie van der Heever (12) is bly om weer vir Trompie na ‘n jaar terug by die huis te hê. Foto: Verskaf.

Sy het uitgeloop in die straat en na Trompie geroep wat toe omgedraai het en vriendelik haar kom groet het.

“Hy het teen my geskuur en my gelek en toe vooruit na ons hek toe gehardloop en gewag dat ek vir hom oopmaak. Ek het nie geweet hoe ons groter honde sou reageer nie en toe hul buite gehou. Trompie het dadelik toe hy in die huis kom op sy gunsteling stoel gaan lê, nes ons hom ken,” sê Karen.

Die Van der Heever-gesin het ʼn vermoede dat iemand het hom ingeneem het en versorg het. Trompie is ook gesteriliseer en was goed versorg.

“Dit is vreemd dat niemand hom gekry het nie, so ek dink die persoon wat die hond ingeneem het, het nie geweet dat hy soek was nie,” noem Karen, wat nog steeds nie kan glo dat Trompie terug is nie.

Willie is vanaand terug in Potchefstroom en sal graag al Trompie se “stories” wil hoor – die kanse is goed dat hierdie woef dit sommer vanuit sy gunsteling stoel sal doen!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button