News

Polisieman dien net 21.29% van sy tronkstraf uit

’n Voormalige polisieman van ons buurdorp Vereeniging, wat wapens in polisiebesit gesteel en aan bendelede op die Kaapse Vlakte verkoop het, is toe wel in Augsutus 2020 vrygelaat nadat hy minder as ‘n vierde van sy vonnis uitgedien het

VEREENIGING. – Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het uitdeindelik erken dat oudkolonel Christiaan Prinsloo, wat in 2016 tot 18 jaar tronkstraf gevonnis is vir rampokkery, korrupsie en geldwassery, sedert 4 Augustus 2020 op parool uit is.

Prinsloo is in 2020 onder groot geheimhouding vrygelaat, maar nadat hy in ‘n winkel in Vereeniging gewaar is en die foto’s wyd op sosiale media versprei is, het mense begin vrae vra.

‘n Man wat soos oudpolisiekolonel Christiaan Prinsloo lyk is in September 2020 in ‘n parkeerterrein in Vereeniging gewaar en het vrae laat ontstaan oor waarom hy nie in die tronk is nie. Foto: Verskaf

Die department van justisie en korrektiewe dienste wou tot dusvêr nie reageer op navrae rondom Prinsloo se vrylating nie.

Nou het Lamola erken dat Prinsloo gekwalifiseer het vir ‘n spesiale kwytskelding van die vonnis.

Lamola het gereageer op ‘n vraag wat Glynnis Breytenbach, ‘n DA parlementslid, aan hom gestel het.

Volgens die Antwoord wat Lamola gegee het is hy sedert Augustus 2020 op parool en die vonnis sal op 20 Junie 2033 verstryk.

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, mnr. Ronald Ozzy Lamola. Foto: Verskaf

Prinsloo het tussen 2007 en 2015 by die polisie se wapenstoor in Gauteng gewerk. Hy en kol. David Naidoo was in beheer van wapens wat geoormerk was om vernietig te word, maar hulle het meer as 2 000 wapens gesteel wat onder meer in die hande van bendes in die Kaapse Vlakte beland het.

Die nie-regeringsorganisasie Gun Free South Africa (GFSA) sê altesaam 1066 mense in vermoor met wapens wat Prinsloo-hulle in die hande van bendes op die Kaapse Vlakte laat beland het.

‘n Onbekende moeder treur oor die dood van haar seun. Foto: www.prinslooguns.co.za

Buiten die 1 066 moorde was daar ook 1 403 pogings tot moorde en 315 misdade wat direk met die gesteelde vuurwapens verband hou.

Onder die 1 066 mense wat vermoor is tel 67 kinders. Duisende mense is ook beseer as gevolg van dié vuurwapens.

Meer as 1 100 van die wapens wat Prinsloo gesteel het is blykbaar nog soek en waarskynlik in die hande van misdadigers.

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, en polisieminister, Bheki Cele, doen in 2019 inspeksie van vuurwapens wat geoormerk is om vernietig te word by ArcelorMittal se aanleg in Vereeniging. Foto: Lebo Chaha

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig op die webwerf van ons susterkoerant Vaalweekblad:

https://vaalweekblad.com/170655/prinsloo-dien-net-21-29-van-sy-tronkstraf-uit/?fbclid=IwAR1C37-AbDU0mlqjMLBCw8ZZhj7QZWlUl0DiPCl8sVwqlPsEXTpKNKitia0

 

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button