Local newsNews

Kontakklasse by NWU opgeskort weens vertraging in NSFAS-betalings

Die NWU bestuur het besluit om met onmiddelike effek kontakklasse op al drie kampusse tot verdere kennisgewing op te skort.

Die NWU bestuur het besluit om met onmiddelike effek kontakklasse op al drie kampusse tot verdere kennisgewing op te skort.

Die rede hiervoor spruit uit onlangse verwikkelinge rakende NSFAS-studente en die NSFAS-diensverskaffer, Norraco, se direkte betaling-sisteem van toelaes aan NSFAS-begunstigdes. Daar is tans ‘n vertraging van betalings aan hierdie studente.

Die Herald se susterkoerant Potchefstroom Herald het in Julie berig dat die NWU KSR (Kampus Studenteraad) nie ten gunste van NSFAS se nuwe direkte betalingsisteem (Mastercard) was nie. Ten spyte van verskeie vergaderings tussen die NWU en NSFAS, moes die NWU instem om met die nuwe sisteem voort te gaan.

“Ons het herhaaldelik gewaarsku dat hierdie situasie sal gebeur, en ongelukkig is ons advies geïgnoreer. Ons het simpatie met ons studente, veral die NSFAS-begunstigdes wat deur die betalingsvertragings geraak word. Die bestuur wil studente verseker dat alle pogings van die NWU se kant af toegewy is aan daardie aspekte waar ons kon bydra tot ‘n gladde oorhandiging wat in die beste belang van ons studente is,” noem NWU woordvoerder, Louis Jacobs.

“Ons erken die studente se frustrasies en die impak wat die vertragings, wanbetaling en derdepartystelselprobleme op die NSFAS-begunstigdes en die akademiese program het. Ons het reeds van die ongelukkige voorvalle gesien wat vandag, 31 Julie 2023 oor ons kampusse gebeur het. Ongelukkig is ‘n besluit oor die oorname van direkte betalings van universiteite deur NSFAS geneem en soos voorheen gekommunikeer, is die NWU ontmagtig deur hierdie proses,” noem Jacobs.

Gister (31 Julie) kon ongeveer 90% van die NWU NSFAS-begunstigdes tegnies toegang tot hul fondse kry, mits die Norraco-stelsel funksioneel was. Dit is begunstigdes wat reeds aan boord is.

Volgens Jacobs is dit van kardinale belang vir die NWU om die 2023 akademiese jaar suksesvol af te sluit en sodoende is daar besluit om tot verdere kennisgewing klasse aanlyn aan te bied. Die NWU sal ook voortdurend alle belanghebbendes in kennis hou rakende die verwikkelinge.

“Die dosente is gevra om die onderrigmateriaal en opnames aanlyn te publiseer vir studente om af te laai en met die akademiese program voort te gaan. Ons versoek personeel om met hul bestuurders te skakel en waar moontlik op afstand te werk tot verdere kennisgewing,” stel Jacobs.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button