NewsNews

Mans wat prokureur/sakeman in 2019 vermoor gevonnis

Hoewel albei die mans in effek tot 25 jaar tronkstraf gevonnis is hang daar nog baie vrae oor die motief vir die moord.

PALM RIDGE. – Die twee mans wat in Januarie 2019 ‘n bekende prokureur en sakeman van Vereeniging vermoor en daarna sy lyk in die Vaalrivier gegooi het is Maandag (14 November 2022) elk in effek tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Die twee is in April skuldig bevind aan al vyf aanklagte teen hulle, naamlik die moord op Eric Lyell (68), roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie en dwarsboming van die gereg.

Regter Tony Thobane het in die rondgaande hooggeregshof vir Bongani Tau en Andile Mpangeva albei tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die wrede moord op Lyell en 10 jaar op die klag van roof met verswarende omstandighede.

Die eerste twee vonnisse sal samelopend uitgedien word.

Op die derde klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen is albei drie jaar tronkstraf opgelê en vir ‘n vierde klag van onwettige besit van ammunisie het hulle twee jaar tronkstraf gekry.

Op die vyfde klag van regsvereindeling – hulle het Lyell se liggaam in die Vaalrivier gegooi om bewyse te probeer verbloem – is hulle tot vyf haar tronkstraf gevonnis.

Die derde en vierde klag sal samelopend met die vyfde klag uitgedien word.

Regter Thobane het op navraag van die staatsaanklaer, Trott Mphahlele, bevestig dat Tau en Mpangeva albei 25 jaar tronkstraf sal uitdien.

Die Vereenigingse prokureur en sakeman, Eric Lyell (68), wat in 2019 vermoor is. Sy lyk is in die Vaalrivier ontdek. Foto: Netcare 911

Tau, ‘n werknemer van Lyell, wat by hom gebly het en soos ‘n ‘butler’ en ‘n ‘seun’ vir hom was, en Mpangeva, ‘n medepligtige, het op die aand van 11 Janurie 2019 die oorledene by sy huis aangeval.

Tau en Mpangeva het vir Lyell met ‘n piksteel geslaan en met ‘n tou gewurg.

Llyel het aan beserings wat hy tydens die aanval opgedoen het beswyk.

Tau en Mpangeva het op die aand van die moord vir Lyell van sy Volswagen Jetta, ‘n Huaweii-selfoon, sy 9mm Beretta semi-outomatiese pistool met ammunisie en ‘n Seiko-polshorlosie beroof.

Hulle het daarna sy lyk in ‘n kar gelaai, na ‘n brug oor die Vaalrivier gery en die lyk in die water gegooi in ’n poging om bewyse te vernietig.

Lyell se lyk is die volgende dag, op 12 Januarie 2022, in die Vaalrivier ontdek.

Die twee is later in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.

Bongani Tau was soos ‘n “seun” en ‘n “butler” vir wyle Eric Lyell. Foto: Christiaan Cloete

Die veroordeeldes het tydens die hofsaak teen mekaar gedraai, met Mpangeva wat getuig het dat Tau hom met ‘n pistool gedreig het en hom beveel het om Lyell se liggaam in die voertuig te laai, dit later uit te haal en van die brug af in die rivier te gooi.

Tau het op sy beurt getuig hoe hy op die toneel aangekom het toe Mpangeva reeds besig was om vir vir Llyell aan te rand.

Regter Thobane het tydens vonnisoplegging gesê dat die hof die aard van die misdaad, die persoonlike omstandighede van die oortreders en die belange van die gemeenskap moes opweeg om oor ‘n gepaste vonnis te besluit.

Hy het herhaaldelik verwys na die ouderdom van die oortreders toe die misdaad gepleeg is. Die feit dat Tau maar 21 was en Mpangeva 20 toe die moord gepleeg is, het as versagtende omstandighede getel.

Die aard van die misdaad en die grusame wyse waarop Lyell vermoor is deur iemand wat hy vertrou het is ook in ag geneem.

Regter Thobane het gesê dat die hof nie die veroordeeldes gaan vonnis tot die punt wat hulle gebreek word nie.

Hulle het ook minder as die voorgeskrewe vonnis vir moord (25 jaar) gekry.

Wyle Eric Lyell se kinders in die hof. Van links is George Lyell (49) en sy vrou, John Lyell (37) en Clarissa Gerber (48). Foto: Christiaan Cloete
Bongani Tau en Andile Mpangeva tydens die vonnisoplegging. Foto: Christiaan Cloete

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button