LifestyleNewsNews

Oud-Potchefstromer stel nuwe samesweringsriller bekend

Oud-Potchefstromer stel nuwe samesweringsriller bekend

Die bekende skrywer, René van Zyl, het as nooi Joubert diep spore in Potchefstroom se strate gestap, gejaag en soms met haar pers Chopper-fiets hard met die teer kennis gemaak in die sewentigs en tagtigs. Dit was terwyl sy hier grootgeword het, gestudeer het en selfs getrou het. Haar nuutste samesweringsriller, Die Omegakomplot, het pas die lig gesien.
René se pa, Josua Joubert, ‘n voorligtingsbeampte by die Landboukollege, was ‘n bekende gesig in Potchefstroom, ook in die dorp se tennisbane. Sy het haar skoolloopbaan in Laerskool Baillie Park en later Hoër Volkskool voltooi en toe BA Kommunikasiekunde aan die destydse Potchefstroom Universiteit (PU vir CHO) studeer.

Joernalistiek was haar groot liefde en dit het ook haar beroep geword in Pietersburg.
Later jare het sy in Natuurbewaring beland, waar sy basies in haar pa se voetspore gevolg het en as voorligter en opvoedkundige beampte opgetree het. By TPA en ook later by KwaNdebele.
Haar man, Anton, ook ‘n oud-Puk, het sy ingenieursloopbaan verruil vir voltydse Teologiese studies aan Pretoria Universiteit, kort na ‘n lewenskrisis toe hul oudste seun as peuter met breinskade gelaat is. Dis ook in die tyd dat René as tuisbly ma kreatief moes begin dink om te oorleef. Sy het haarself in die bietjie vrye tyd wat sy gehad het in haar skryfwerk uitgeleef.
Een van haar getroue lesers noem haar die vroulike weergawe van die skrywer, Dan Brown, koning van samesweringsrillers. Dit is vir haar ‘n besondere groot kompliment, erken sy. René is bekend vir die sowat twaalf romanse wat sy deure Lapa Uitgewers uitgegee het, maar veral vir die samesweringsriller, Die Alfadokument wat deur Lapa se Wenkbrou-been uitgegee is. Die Omegakomplot het sy pas van die drukkers ontvang en sy waarsku dat hierdie gatskop heldin, Michaela Cohen, ‘n taai ratel is wat haar nie laat afskrik deur ‘n psigopatiese godsdiensleier wat die wêreld wil vernietig nie.

Oud Potchefstromer en bekende skrywer, René van Zyl, saam met haar man, Anton.

In Die Omegakomplot ontlont geloof en waansin ‘n dodelike tydbom en net twee mense kan die bloedbad keer. Michaela, oftewel, Kayla, is die onortodokse leier van ‘n internasionale Christenorganisasie. Sy en haar man Josh, ‘n oudsoldaat, is die enigste mense wat deur die nuwe Babilon-orde se bose intensies sien. As jy die eerste boek, Die Alfadokument, gelees het, weet jy dat Kayla reeds met sakke vol emosionele bagasie van ʼn surrealistiese, sektariese kleintyd sit. Nagmerries hiervan en ook van haar vyf onmenslike jare in ‘n Thaise tronk, spook snags by haar. Asof dit nie genoeg is nie, staan ‘n reïnkarnasie van haar nagmerries kamma uit die graf op en nou wil hy haar kind gebruik in sy nuwe, berugte wêreldorde.
Die gaste wat by René se onlangse boekbekendstelling in Harties was, juis kort voor Vrouedag, is dit eens dat René, soos haar anderster heldin, uithouvermoë en vrouemoed het om so ʼn ingewikkelde tema aan te pak. Veral in ‘n tyd waarin misdaadromans die gewilde genre is. Nie net hanteer sy temas soos eindtyd-sameswerings nie maar ook hedendaagse gevare soos virusse en psigopatiese leiers wat net in mag en geld belangstel, ongeag menselewens wat vernietig word.
Iemand het opgemerk dat hy veral beïndruk was met hoe sy die leser met Die Omegakomplot intrek in ‘n parallelle doolhof tussen fiksie en historiese feite. Asook hoe belangrike elemente van die vroegste beskawings sentraal aangewend word in die skep van ʼn fiktiewe, hedendaagse organisasie. Hy het ook genoem hoe René met deernis elke karakter se geloofsoortuiging, ambisie en emosionele veldslae in die boek hanteer.
Lees gerus die spannende samesweringsroman: Die Omegakomplot, deur René van Zyl. Die boek is beskikbaar in Harties by René self by 0823964100 en by Graffitibooks.co.za (Pretoria) en ook by From Shack to Sanctuary in Klerksdorp. Of as ʼn e-boek op Amazon.com. Boekwinkels en -klubs kan haar kontak vir ʼn praatjie en om die boek bekend te stel.

Related Articles

Back to top button