Die rugbyspanne van Hoërskool Carletonville en Hoërskool Patriot van Witbank, wat die Puma-wenners was, het Vrydag, 5 Augustus op Callies se velde kragte gemeet.
Ongelukkig moes Callies se o.15 span na hul vorige 12 – 0 wen die knie teen Patriot met ‘n telling van 28 – 15 buig.
“Baie geluk met julle prestasie om hierdie seisoen so ver te vorder,” sê die skool se woordvoerder, me. Sandra Venter.
Sy sê die span sien uit na hulle o.16-seisoen volgende jaar en is reeds hard besig met beplanning.
Die skool se eerstespan het egter die bordjies verhang en Patriot met 42 – 0 geklop.
Callies het harde en aanskoulike rugby gespeel en hulle opponente oortuigend geklop.
Dié ster-span kom Saterdag te staan teen die “Rooikatte” van Hoërskool Eric Louw van Musina, wat die Limpopo Bulle-wenners was. Dié wedstryd word in Musina gespeel.
“Ons wens die span en hulle afrigters alles van die beste toe vir hierdie semi-finaal van die Noordvaal Virseker Beker (Afdeling D),” sê Venter.