NewsNews

Grondboontjie-terapie kan dogtertjie se lewe verander

Dr. Staats het Siënna Vrydag, 3 Junie by Mooimed Hospitaal met ‘n sewe uur lange orale immunoterapiesessie behandel waar sy spesiale grondboontjieproteine in bitter klein hoeveelhede toegedien is.

Daar is hoop vir Siënna Coetsee (7) wat met spesiale terapie die eerste stappe geneem het om haar grondboontjie-allergie te oorwin.

Dit is te danke aan die baanbrekerswerk van dr. Jurgens Staats, ‘n plaaslike dokter wat in allergieë spesialiseer by Rachem Wellness Healthcare Practitioners in Potchefstroom.

Dr. Jurgens Staats (regs) het ‘n spesiale grondboontjiepoeier immunoterapie op Siënna Coetsee (7) uitgevoer om haar grondboontjie-allergie te behandel. Hierdie prosedure het Vrydag, 3 Junie by Mooimed Hospitaal plaasgevind. Van links is sr. Leandé Burger, Siënna Coetsee en dr. Jurgens Staats. Foto’s: Verskaf

Dr. Staats het Siënna Vrydag, 3 Junie by Mooimed Hospitaal met ‘n sewe uur lange orale immunoterapiesessie behandel waar sy spesiale grondboontjieproteine in bitter klein hoeveelhede toegedien is.

Sy is ook gemonitor vir enige newe effekte en gevaarlike anafilakse wat met haar allergie gepaard gaan. Haar dosis is elke uur met ‘n paar milligram vergroot, van 0.05 tot en met 2.5 milligram.

“Ouers is baie bekommerd dat kinders buite hulle toesig per ongeluk aan so ’n allergie blootgestel kan word wat lewensgevaarlik kan wees. Die doel van die behandeling is as die kind per ongeluk met grondboontjies in aanraking kom, dat sy nie dodelik siek sal word daarvan nie,” verduidelik dr. Staats.

Siënna Coetsee, ‘n graad 1-leerder van Laerskool Mooirivier, tydens die terapiesessie by Mooimed Hospitaal om haar grondboontjie-allergie te behandel.

“Mooimed was baie gaaf om hulle fasiliteit, ‘n suster en noodmedikasie aan ons beskikbaar te stel. Ek het met ‘n 0.05 milligram grondboontjiepoeier-dosis begin wat sy gedrink het. Toe alles goed verloop, is daar na ‘n uur ‘n 0.1 milligram dosis gegee.

Aan die einde van die sewe uur lange sessie het sy by 2.5 milligram geëindig,” noem hy.
“Sy het dit baie goed hanteer. Mooimed het ook die kamer baie goed ingerig.
Daar was ‘n televisie en speletjies om haar tydens die terapie besig te hou,” voeg dr. Staats by.

Siënna se ma, Vidette, noem dat sy uitgevind het haar dogter is allergies vir grondbone toe sy maar 10 maande oud was.

“Ek is dankbaar vir dr. Staats se werk. Hy doen wonderlike werk en ons stap al ‘n lang pad (drie jaar) saam met hom. Hy is baie passievol oor wat hy doen. Vir my as ouer is dit ongelooflik om te dink dat daar ‘n oplossing vir my dogter se allergie kan wees,” noem Vidette.

Tydens die terapiesessie moes ‘n baie spesifieke dosis van die grondboontjiepoeier gegee word.
“Ek was verlede jaar in die Kaap by die Rooikruis Kinderhospitaal waar ek as deel van ‘n beurs wat ek gewen het, vir twee weke gewerk het. Daar is ‘n dokter wat in hierdie terapie spesialiseer.
“Ek kon so deur die protokol gaan en uitvind waar ‘n mens die spesiale grondboontjiepoeier kan kry,” vertel dr. Staats, wat die poeier vanuit Amerika moes invoer.

Siënna moet vir die volgende twee weke elke dag 2.5 milligram grondboontjiepoeier drink voordat sy weer ‘n opvolgbesoek by dr. Staats het.
“Ons doen ‘n longfunksietoets, ‘n bloeddruktoets en kyk op die langtermyn ook na haar slukderm of daar enige komplikasies is.
Elke twee weke word die dosis verhoog totdat sy by 250 milligram grondboontjieproteinpoeier kom wat gelykstaande is aan een grondboontjie.
Dit is ‘n lang proses (4-5 maande), maar ons wil dit so veilig as moontlik hou,” vertel dr. Staats.
Die meeste kinders ontgroei allergieë, maar dit is nie altyd die geval met grondboontjies en seekos nie, meen dr. Staats.

“Grondboontjies word ook maklik verskuil in kos en dit is iets wat ‘n gevaar kan inhou.
Dit affekteer die lewenskwaliteit van mense met hierdie allergie.”

Grondboontjie-terapie kan dogtertjie se lewe verander | Potchefstroom Herald

 

Related Articles

Back to top button