NewsNews

Handré Read (5) – dit gaan al beter

Handré gaan baie goed aan. Ons wens hom en die res van die gesin 'n spoedige herstel toe.

Laerskool Vaalrivier van Vanderbijlpark se hoof, Henro Read, het Maandag, 23 Mei in ‘n telefoniese onderhoud laat weet dat dit heelwat beter met die Reads gaan.

Die gesin was op 27 April in ‘n baie ernstige motorongeluk.

Van almal het die egpaar se middelste seun, Handré, die seerste gekry. Hy is per helikopter na ‘n hospitaal in Alberton gevlieg waar hy ‘n breinoperasie ondergaan het.

Die weke wat op die ongeluk gevolg het, was en is uiters spanningsvol vir die gesin, hul naasbestaandes en familie.

Dit het ook lank geneem voordat die spesialiste die gesin die versekering kon gee dat hy buite gevaar was.

Stadig maar seker het verbetering begin intree. Sondag, 15 Mei het Vinkie self begin asemhaal en is hy van die ventilator afgehaal. Toe het die lang proses begin om hom wakker te kry.

Groot was die vreugde toe hy begin “mamma” en “pappa” sê en begin vra vir water.

Hy het oor die naweek self begin eet en sy pa was baie trots op die mannetjie wat Maandag “baie goed geëet” het.

“Hy kan ook al met die fisio se hulp regop sit en vanoggend het hy selfs ‘n paar tree saam met die fisio geloop,” het Henro dankbaar vertel.

“Tot die saalsusters was baie bly en opgewonde toe hulle hom sien loop.”

Verdere goeie nuus is dat alle breinfunksietoetse goed afgeloop het. Die spesialis hoop om Handré binnekort oor te plaas na ‘n rehabilitasiesentrum in Johannesburg.

Op die oomblik is hy nog in die intensiewe sorgeenheid.

Lees die berig hier verder op die webwerf van die Herald se susterkoerant Vaalweekblad:

Handré Read (5) – dit gaan al beter | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button