NewsNews

Geliefde Prof verstik en sterf by vleisbraai

"Hy was baie slim en kon enige ding regmaak. Ons sal hom veral onthou vir hoe hy altyd gesing het en hoe lief hy vir ons, sy familie en vriende was."

Wat die afgelope Paasnaweek vir prof. Johan Bekker (56) en sy familie ‘n lank beplande fees moes wees, het op Goeie Vrydag in ‘n tragedie ontaard toe hy aan ‘n stukkie braaivleis verstik en gesterf het.

Dié bekende akademikus by die Vaaldriehoekse Universiteit van Tegnologie (VUT), sy ma, al drie haar kinders en hul gesinne het weke lank beplan aan ‘n wegbreeknaweek by Kranspoort, ‘n vakansiedorp so 40 km buite Middelburg.

“Dit sou die eerste keer in drie jaar wees dat almal bymekaar sou wees. Al 17 van ons het só uitgesien daarna,” sê sy dogter, Corli.

“Ek en my pa het die oggend al gery en by die familie aangesluit. Ons het die hele middag gelag, gekuier en opgevang. My ma het my sussie, wat vir die naweek van PE af gevlieg het, eers 17:00 by die lughawe gekry. Toe hulle so 19:30 die aand by ons aansluit, het ons éérs lekker gekuier. Vrydagaand was so ‘n goeie aand… of veronderstel om te wees.

“Ons het net na 21:00 gebid voor ons eet en almal het begin opskep. Pappa het ‘n stukkie steak gesny en ‘n happie gevat. Mamma het gesien hy verstik. Sy vra toe dadelik of hy oukei is, maar hy kon nie praat nie. Hy het net sy kop geskud en met sy hand gewys hy kry nie asem nie.

“Die mans het dadelik begin met die Heimlich maneuver. Ons almal het letterlik álles wat in daai chaos en paniek in jou kop opkom, probeer. Die naaste hospitaal was Middelburg en al het ons geweet dit sou te ver wees, het ons steeds ‘n ambulans ontbied. My neef het intussen na die vakansiedorpie gejaag en twee mediese susters gaan haal. Uit pure desperaatheid het ek ook die mense in die huis oorkant gaan roep om te kom help. Die man is toevallig ‘n dokter en het dadelik vasgestel dat daar nie meer ‘n pols was nie. Hy het nogtans alles probeer wat hy kon,” sê Corli.

Prof. Bekker se heengaan is nie net ‘n geweldige skok vir sy vrou Annelie, dogters Corli en Jane en die res van die familie nie. Dit is ook ‘n groot terugslag vir VUT en die talle studente wat deur die jare deur hom onderrig is. Van sy studente en kollegas beskryf hom op Facebook as hoogs intelligent, ‘n eerbare man en ‘n ware gentleman.

Mnr. Nico Oosthuizen, ‘n kollega wat besig was met sy doktorale studies onder prof. Bekker, sê hy was baie geliefd by sy kollegas en sal onthou word vir sy lekker spanwerk. “As my nagraadse studieleier was sy entoesiasme werklik ‘n inspirasie,” sê hy.

Lees die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterskoerant Vaalweekblad hier:

Geliefde Prof verstik en sterf by vleisbraai | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button