NewsNews

R30-tragedie: Nóg ses sterf waterdood

R30-tragedie: Nóg ses sterf waterdood

Ses mense het vanoggend in die vroeë oggendure op die R30 tussen Bothaville en Allanridge gesterf nadat ‘n 22-sitplek minibus taxi in die water van ‘n pan wat weerskante van die pad loop, geval het.

Die minibus taxi wat vanoggend in die water van ‘n pan weerskante van die R30 tussen Bothaville en Allanridge beland het. Foto: Verskaf

Die pad is vanoggend net na 09:00 weer oopgestel vir verkeer.

Die gedeelte van die R30 is sedert Februarie vanjaar in omstredenheid gehul nadat daar nou reeds 25 mense in ongelukke op die pad gesterf het sedert begin Februarie, en minstens 58  beseer is.

Die R30 tussen Bothaville en Allanridge het vroeg Februarie oorstroom ná swaar reën toe die pan se water oor die pad gespoel en die teervlak ernstig beskadig het. ‘n Kontrakteur het toe die padvlak verhoog tot bo die watervlak, maar het die groot aantal ongelukke op die pad kommer laat ontstaan oor die veiligheid van die pad.

Ná die soveelste ongeluk op  28 Maart waarin ‘n Oos-Kaapse ouerpaar en hul twee dogtertjies van 2 en 4 jaar oud gesterf het, is  die pad met onmiddellike effek gesluit.

Die pad is egter net enkele dae later weer heropen. Verkeersbeamptes is toe opdrag gegee om die pad met flitsende blou ligte weerskante te beman om seker te maak mense slaan ag op die waarskuwingstekens en spoedbeperkingborde wat weerskante van die pad aangebring is.

Hoewel daar spoed- en waarskuwingstekens weerskante van die pad is, is daar geen veiligheidsrelings by die gedeelte van die pad nie.

Verskeie motoriste wat daagliks die pad gebruik het, het al telkens gesê dat hulle meen die pad wel veilig is, maar dat veral die verontagsaming van die waarskuwingstekens en spoed te blameer is vir die ongelukke. Met vanoggend se ongeluk was verkeersbeamptes op hul pos en is mense gewaarsku om te hou by die spoedbeperkings, maar wil dit tog lyk of nie alle motoriste gehoor gee om spoed hier te verminder nie.

Lees die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterskoerant Parys Gazette hier:

R30-tragedie: Nóg ses sterf waterdood | Parys Gazette

 

Related Articles

Back to top button