NewsNews

Weermagvrou verloor haar held in ongeluk

Van Niekerk, ‘n weermag stafsersant wat by Veldwerkplaas 102 (Field Workshop) Potchefstroom in ‘n tegniese hoedanigheid gewerk het, was in ‘n kop-aan-kop botsing op die R54 tussen Vereeniging en Potchefstroom betrokke.

“My hero is weg en ek is stukkend.” Dit is die hartseer woorde van Sonja van Niekerk wat haar man, Hendrik “Langes” van Niekerk (48) Vrydag, 4 Maart in ‘n motorongeluk verloor het.

Van Niekerk, ‘n weermag stafsersant wat by Veldwerkplaas 102 (Field Workshop) Potchefstroom in ‘n tegniese hoedanigheid gewerk het, was in ‘n kop-aan-kop botsing op die R54 tussen Vereeniging en Potchefstroom betrokke.

Stafsersant, Hendrik “Langes” van Niekerk is Vrydag, 4 Maart in ‘n motorongeluk oorlede. Foto’s: Verskaf

Hy is opslag dood nadat ‘n voertuig ‘n ander voertuig oor die sperstreep wou verbygaan en die met Van Niekerk-hulle se voertuig, ‘n Toyota Corolla, gebots het.

“My man moes saam met een van sy kollegas na die Dunnottar Militêre Basis tussen Springs en Nigel ry en van daar af na Pretoria. Hulle het toe instruksies gekry dat hulle nie meer Pretoria toe hoef te gaan nie en hy het toe huistoe gery. Hy het op pad terug verongeluk,” noem Sonja, terwyl trane van haar wange rol. 

Sonja, wat self in die weermag werk, noem dat sy Langes jare gelede juis in die weermag ontmoet het.

“Ons het net geclick. Hy het my op Valentynsdag in 1997 gevra om met hom uit te gaan en ons is in April 1998 getroud. Hy was die wonderlikste man en pappa.

“Hy het altyd baie hoë standaarde gehad en geen grys areas nie. Dit was of reg of verkeerd. Hy het altyd gesê, ‘dink net logies.’”

Stafsersant Hendrik “Langes” van Niekerk is in ‘n kop-aan-kop botsing op die R54 dood. Hier is hy saam met sy vrou Sonja en dogter Veronika.

Sy noem dat haar man en hulle dogter, Veronika (20) soos vinkel en koljander was en dat haar pa se dood nog baie moeilik vir haar is om te verwerk.

“Dit is vir ons almal baie swaar. Hy was hierdie 2.15m reus van ‘n man met die sagste hart,” sê Sonja.

Related Articles

Back to top button