NewsNews

Afstandkontrole maak toe vele hekke oop

Public Eye waarsku dat mense gereeld hul hekke se afstandkontroles moet herprogrameer.

‘n Inwoner van Vaalpark in Sasolburg het ‘n blou afstandkontrole voor sy hek opgetel op 2 Maart 2022.

Hy het die knoppies gedruk en tot sy skok het sy erf se hek en die bure se hek oopgegaan.

Hy het dit dadelik op een van die Public Eye forums gerapporteer waarna Arrie Coetzee gaan ondersoek instel het.

“Die grysknoppie het twee huise se hekke oopgemaak en die bloue nog een.

“Ons het ook die diensverskaffer in kennis gestel dat een van hulle kliënte se hekke oopgemaak kon word met die kontrole.

“Hulle het dadelik vasgestel of hulle kliënt nie dalk ‘n kontrole vermis nie, wat nie die geval was nie. Ons het toe die kontrole vernietig,” het Arrie gesê.

Hy het aangedui dat mense moet leer om hul hekkontroles self te programmeer.

“Dit is glad nie moeilik nie en hulle kan by hulle diensverskaffer aanklop om vir hulle te wys hoe. Dan moet hulle op gereelde basis al hulle kontroles se programmering kanseleer en herprogrammeer. Dit sal help om die risiko van gekloonde kontroles te verminder.”

Sekuriteit opgeskerp

Patrolliemotors reageer nadat ‘n verdagte voertuig opogemerk is.

Nadat ‘n hond in die vroeë oggendure van 2 Maart 2022 in Vaalpark vergiftig is, het Public Eye, SAPD Taakspanlede en vrywilligers dadelik sekuriteit in die dorp opgeskerp.

Die verskerpte maatreëls is ook ingestel omdat hul al hoe meer verslag gekry het van verdagte aktiwiteite in die nag.

“Ons het die gemeenskap versoek om, indien moontlik, hul privaat kameras te rig op die strate en dit te monitor in skofte deur die nag,” het Arrie gesê.

Enige verdagte voertuie of aktiwiteite word dan op die forums gerapporteer waarna die reaksie voertuie uitgestuur word. Vaalpark se parate inwoners het dadelik positief gereageer.

“Ons het ‘n geweldige reaksie en samewerking ontvang en het op die eerste oefening meer as 40 kameras aanlyn gehad wat die gemeenskap deur die nag gemonitor het,” het Arrie vertel.

Lees hier verder op die webwerf van die Herald se susterskoerant Vaalweekblad:

Afstandkontrole maak toe vele hekke oop | Vaalweekblad

 

Related Articles

Back to top button