NewsNews

‘n Besige jaar vir jong model

‘n Model van Carletonville gaan vanjaar die dorp se naam tydens verskeie byeenkomste oorsee hoog hou.

Die 15-jarige Nicole Barnard gaan op 15 Maart aan die Miss & Mr Galaxy kompetisie in Bulgarye deelneem. Hier gaan sy teen modelle van regoor die wêreld te staan kom. Nicole, ‘n gr. 9-leerder van Hoërskool Fochville, gaan egter skaars terug in die land wees, dan sal sy weer internasionaal moet reis om die kroon in die Little Miss Earth-kompetisie, waarin sy tans die titel hou, te oorhandig. Dié kompetisie sou eers in Suid-Afrika aangebied word, maar is as gevolg van Covid-19 reëls na Zanzibar geskuif. Dit sal van 12 tot 19 April op dié eiland plaasvind. Nicole sal weer in die Julie-vakansie na Bulgarye moet terugkeer om nóg ‘n titel te oorhandig. Dit is egter nie die laaste van haar reise vir die jaar nie, aangesien sy weer in Oktober na Brasilië gaan reis om aan die Little Miss Nations-kompetisie deel te neem. “Haar program is vanjaar besonder besig omdat baie van die kompetisies as gevolg van die pandemie uitgestel moes word. Sy het die titel ook reeds in 2018 en 2019 verwerf. Die nuwe kompetisies vind nou almal eers vanjaar plaas,” sê Nicole se ma, Liezel. Intussen is Nicole ook vir ‘n rol in ‘n kortfilm gekies. Sy is ook in ‘n musiekvideo wat die sanger Nadine in November verlede jaar opgeneem het. Haar ma het ook ‘n agtergrond-rol in dié video. Modelwerk is egter Nicole se passie en help deesdae ook met die opleiding van ander modelle.

 

Related Articles

Back to top button