NewsNews

Klub 50 vier kwart-eeu saam

Die gewilde organisasie vir ouer inwoners in die Carletonville-omgewing, Klub 50, is ‘n hele kwart-eeu oud.

Lede van Klub 50 het op 10 Februarie dié mylpaal tydens hul weeklikse bymekaarkoms by die NG Kerk Suid-gemeente in Aloestraat gevier. Die klub se nuwe voorsitter, Hannes van den Berg, het die verrigtinge gelei, met ds. Anuschka Smit van die NG Kerk Oberholzer-gemeente wat geopen het. Deur die jare het die klub, wat in 1997 amptelik gestig en gekonstitisioneer is, se lede talle beplande en onbeplande pret beleef. Vriendskappe tussen klublede het só gegroei dat daar deur die jare vier troues was. Sedert 2012 het die klub nege vakansies saam gehad. Van dié vakansies was na Hartenbos, Margate, Badplaas, die Krugerwildtuin, ‘n blommetoer en ‘n treintoer Paarl toe. Die klub het deur die jare ‘n eie resepteboek asook ‘n eie sangboekie met liedjies vir op die bus na toere laat druk. Die klub het deur die jare 11 voorsitters gehad, waarvan ses steeds klublede is. Die klub se volgende vergadering vind op 17 Februarie plaas. Dit sal karaoke met Dries Oosthuizen wees. Alle inwoners van 50 jaar of ouer is welkom. Belangstellendes kan Maria Mans by 082 752 8118 skakel.

Related Articles

Back to top button