NewsNewsSportSport

Jong gimnas weer aan die gang

‘n Jong gimnas van Fochville is ná ‘n besering verlede jaar reeds weer besig om in dié sport te presteer.

Cassidy Britz (14), ‘n lid van die Losberg Gymnastics gimnastiekklub het verlede jaar tydens haar eerste groot kompetisie op 28 Augustus haar elmboog só beseer dat sy in ‘n ambulans van die kompetisie af weggeneem moes word.
“Dit was by my eerste apparaat. Die eerste ding wat ek kan onthou was dat ek nie my elmboog kon strek nie.
“Ek het eers gedink hy is gebreek, en al wat ek regtig kan onthou, is dat ek vir almal jammer gesê het. Ek was dadelik bang dat ek nie weer gimnastiek kon doen nie,” vertel Cassidy.
X-strale het later gewys dat, hoewel haar elmboog nie gebreek was nie, dit heeltemal uitgehaak het.
Die kranige Cassidy het egter nie dat haar besering haar onderkry nie en sy het dadelik weer begin oefen nadat die spalk na ‘n week verwyder is.
Sy het aanhou oefen tot haar elmboog weer so sterk was dat sy handstande, wawiele en ander bewegings kon doen.
“Cassidy het besondere uithouvermoë en probeer altyd iets nuuts.
“Sy het deurgedruk en só hard geoefen dat sy vinnig weer sterker geword het,” sê die hoofafrigter en eienaar van die klub, JJ Strydom.
Volgens hom is Cassidy al reg om saam met die ander klublede, wat ook reeds begin het om te oefen, teen April aan die Gauteng-kampioenskappe in Pretoria deel te neem.
Die klub is ook steeds besig om uit te brei. Behalwe vir klasse by byna al die kleuterskole, sal gimnastiek ook binnekort as ‘n buitemuurse sport by Laerskool Fochville aangebied word.

Related Articles

Back to top button