NewsNewsUpdate

Regstelling: DA in topposte in Wesrand Distriksraad

Drie raadslede van die DA is gister tydens ‘n vergadering van die Wesrand Distriksraad in die drie topposte van 'n nuwe koalisieregering aangestel.

Die Wesrand Distriksmunisipaliteit dien die Merafong City, Mogale City (die Krugersdorp-gebied) en Randwest (die Randfontein en Westonaria-gebied).

Hullet Hild van die DA is as burgemeester verkies terwyl Gerhard Kruger, ook van die DA, die raad se nuwe speaker is. Almé Rowles-Zwart, ‘n inwoner van Fochville, is as die nuwe hoofsweep verkies is.

“Die DA, VF Plus, Action SA, IVP, ACDP, Cope en ander opposisie partye het op 15 Desember 2021 na ‘n uitgerekte onderhandelingsproses op nasionale vlak ‘n veelparty koalisie ooreenkoms onderteken. Die ooreenkoms geld vir alle rade waar veelparty koalisies tot stand kom en die ooreenkomste spel die wisselwerking en samewerking volledig uit. Daar is ook ooreengekom dat geen party enkel eienaarskap van so koalisie sal eis nie,” verduidelik die leier van die VF Plus in Gauteng, Jaco Mulder.

“Die WRDM het 44 setels waarvan die DA 11 setels behaal het, die VF Plus 4, ANC 19, EFF 9 en AIC 1. ‘n Volstrekte meerderheid sou 23 setels moes wees. Omdat geen enkele party ‘n volstrekte meerderheid kon behaal, het die DA en VF Plus ingevolge die ooreenkoms saamgestem met die ondersteuning van die AIC, m.a.w 16 setels. Omdat die EFF die ANC nie ondersteun het kon die DA/VF Plus/ATM groepering dus die ampte van speaker, burgemeester en sweep verkies en is daar besluit om die DA kandidate daarvoor te steun.  VF Plus raadslede kan byvoorbeeld burgemeesterskomiteelede en-of komiteevoorsitters wees,” se Mulder.

 Die Wesrand Distriksmunisipaliteit is in Randfontein gesetel.

Volgens die munisipaliteit se werberf is hul doel om oorhoofse beheer oor die distrik uit te oefen om uitnemendheid van die geïntegreerde regering te verseker.

Tydens die 2017/18 regeringsjaar het die Wesrand Distriksmunisipaliteit 382 werknemers, wat onder meer die area se brandweerdienste insluit, gehad.

Related Articles

Back to top button