NewsNewsSportSport

Kragoptellers wys ander hóé

Kragoptellers van Fochville het verlede week hul staal tydens twee internasionale kompetisies gewys.

Christo Schoonraad en Kay-Lee Steyn het op 3 en 5 Desember aan die Afrika “classic”” en “equipped” kragoptelkampioenskap deelgeneem.
Schoonraad het weer twee dae later aan die Arnold “classic”” en “equipped” Kragoptel en “Benchpress” kampioenskap deelgeneem en ook hier met talle medaljes weggestap. Beide die kompetisies is by die Elgro Hotel in Potchefstroom gehou.
Volgens die Hannie Smith, wat die Afrika-kampioenskap as deel van sy amp by die sport se wêreld beheerliggaam help organiseer het, sou deelnemers uit die hele Afrika kom deelneem het.
Ongelukkig het deelnemers van verskeie lande, veral dié uit die Noordelike deel van die kontinent soos Egipte, Morokko en Algerië, op die laaste nippertjie gekanselleer as gevolg van die reisbeperkings wat op Suid-Afrika geplaas is na die nuwe Omicron-variant van Covid-19 hier aangemeld is.
“Van hulle was reeds op die lughawe toe hulle moes omdraai,” sê hy.
Ondanks die feit dat daar steeds meer as 100 van die beste kragoptellers op die kontinent was wat deelgeneem het, het Schoonraad en Steyn steeds talle medaljes ingepalm.
Schoonraad het in ses afdelings tydens die twee kompetisies deelgeneem.
Hy het in almal die goue medaljes ingepalm en ook in die proses ses Suid-Afrikaanse rekords, waaronder vir die totale gewig van 646.5 kg, opgestel.
Hy het ook ‘n nie-amptelike Afrika-rekord vir ‘n “deadlift” van 270 kg agter sy naam gesit.
Hy het ook drie trofeë vir die beste kragopteller in die “equipped”-klas, die “squat” en die meester 1 en 2 klasse ingepalm. Steyn is ook as die nuwe Afrika-kampioen in haar afdeling tydens die Afrika-kampioenskap aangewys na sy onder meer die beste “raw squat” gelig het.
Intussen vertel Schoonraad (58) dat dit die eerste keer was wat hy net na mekaar aan twee sulke groot kompetisies deelgeneem het.


“Ek was gelukkig om genoeg na die eerste kompetisie te herstel om toe weer ‘goed te kon doen,” sê hy. Volgens Schoonraad sou hy dit nie kon doen as hy nie vyf dae ‘n week hard geoefen het om hom hiervoor te kondisioneer nie. Hoewel hy ook vroeër kragoptel gedoen het, neem Schoonraad weer sedert 2005 af voltyds aan die sport deel. “Kragoptel is ‘n individuele sport en mens werk die hele tyd om jou persoonlike rekords te verbeter.
“Dit is lekker want jy kan na die tyd iets vir al jou ure se oefening wys,” sê hy.
Volgens Smith kan enige iemand aan kragoptel deelneem. “Jy hoef nie soos die liggaamsbouers te dieet nie en jy kan vet, maer, kort of lank wees,” sê hy. Kinders kan aan die sport deelneem en daar is steeds kragoptellers in hul 90’s wat presteer.
Mense wat in die sport belangstel, kan hom by 082 566 3433 skakel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button