EntertainmentNewsNews

Potch liedjieskrywer laat Afrikaners se voete dans

Rouxan Cloete, is een van die liriekskrywers van die bekende Afrikaanse treffers, “Vuil Coke” en “Tekkies Brand” wat vanjaar omtrent op elke radiostasie speel en ook gedurig op die top 10 posisie op streaming platforms soos Youtube Music, Spotify en Apple Music is.

Het jy al ooit na vanjaar se warmste treffers soos Fatman se “Vuil Coke” en Irene-Louise van Wyk se “Tekkies Brand” op die radio geluister en gewonder wie agter die lirieke en musiek sit? Potchefstromers kan beslis trots wees dat die plaaslike liedjieskrywer, Rouxan Cloete, ‘n groot rol gespeel het saam met die kunstenaars om hierdie treffers die lig te laat sien. Cloete, is een van die liriekskrywers van “Vuil Coke” en “Tekkies Brand” wat vanjaar omtrent op elke radiostasie speel en ook gedurig op die top 10 posisie op streaming platforms soos Youtube Music, Spotify en Apple Music is.

 

Cloete, wat nou al ‘n geruime tyd in Potch woon, noem dat hy al vir die afgelope 18 jaar liedjies skryf, maar dat dit relatief lank kan neem voordat ‘n liedjie groot hoogtes bereik.

 
 

“’n Mens stap ‘n pad om uit te kom met ‘n liedjie wat gepubliseer word. Ek dink ook daar is twee kante. Baie keer is kunstenaars opsoek na verskillende genres van musiek. Die platemaatskappy sal sê hulle soek ‘n nuwe liedjie vir ‘n kunstenaar en partykeer sal ek van my studio af by die huis aan ‘n lied werk, wat in die kunstenaar se DNA inpas,” verduidelik Cloete die verskillende manière hoe ‘n lied kan ontstaan. “Ek verkies wel om skryfsessies met die kunstenaars self te doen, waar ek dan fisies sit om in hulle kop in te kom. Jy moet die kunstenaar en sy geskiedenis ken, dit help om ‘n lied te skryf wat by hulle pas,” noem hy.

 

Volgens Cloete is Fatman ‘n voorbeeld van ‘n kunstenaar wat sy eie idees het en dan saam met liedjieskrywers werk om die konsepte in ‘n volwaardige lied te verander. Dit is juis op hierdie manier dat “Vuil Coke” gebore is. “In Augustus 2020 was Fatman in Potch gewees en ons het gesels oor ‘n nuwe liedjie en ons het toe “Vuil Coke” in ‘n uur en ‘n half geskryf. Partykeer kan ‘n mens iets vinnig skryf en ‘n ander kere vat dit maande,” meen Cloete. Vir Cloete begin sy liedjieskryfproses baie keer met ‘n spesifieke tema as fondasie waarvolgens hy dan die melodie bywerk.

“Ek hou daarvan om met ‘n tema te begin en dit is amper asof daardie tema met jou praat. Die moeilikste is om melodieë te skryf wat in mense se kop vassit. “Vuil Coke” kan bv nie anders klink as wat dit alreeds klink nie. Dit is asof die lirieke en melodie net saam gebore word.”

Hy kry sy idees vir lirieke uit die samelewing en sosiale konteks – basies, wat interesseer mense, wat het hulle nodig en waarmee kan hulle vereenselwig. “Ek hou my oor op die grond en luister wat mense sê en hoe hulle praat. Baie liedjies is idees of konsepte wat mense dadelik mee kan vereenselwig,” meen hy. Cloete noem ook dat die eerste vers in ‘n liedjie juis die aandag trek en ook net so belangrik soos ‘n goeie koorgedeelte is. Vat maar byvoorbeeld vir “Vuil Coke” se openingslyn: “Wat nie mamma nie weet nie/ Maak mamma nie seer nie/Wat mamma nie vra nie/Gaan mamma nie pla nie” “Dit trek die luisteraar se aandag en dan wil ‘n mens meer weet waaroor die liedjie gaan en verder luister,” vertel Cloete. Cloete werk ook nou saam met die liedjieskrywer en vervaardiger, Dirk van Niekerk, en hierdie twee liedjieskrywers het saamgewerk om “Tekkies Brand” in ‘n treffer te omskep.

“Tekkies Brand” is ‘n skoon song, daar word nie iets genoem wat kinders nie kan hard sing nie. Dit is so breed geskryf en daarom dink ek dat die song suksesvol is. ‘n twee jarige en 70 jarige kan dieselfde gevoel hê wanneer hulle saamsing.

Daar is nie drank of enige vuil gedagte daarin nie. Ek dink dit is ‘n baie catchy melodie en ‘n goeie inleiding. Ek probeer altyd ‘n inleiding en eerste vers hê wat die luisteraar intrek. Die koor is natuurlik belangrik ook sodat mense kan saamsing.” “Maak jou veters vas woah/Daai splinter nuwe Adidas van jou gaan ons bietjie uit toets Kom hier/Ons gaan nie stop nie tot ons rook sien trek” is ‘n voorbeeld van ‘n unieke liriek uit “Tekkies Brand”.

 

“Om altyd kreatiewe of nuutskeppings te hê is die moeilike aspek. Daar is baie kuierliedjies wat dieselfde idee het, maar die moeilikste is om dieselfde konsep op ‘n ander oorspronklike manier weer te gee,” verduidelik Cloete verder. Volgens Cloete skryf hy beslis liedjies sodat dit goed doen en die kunstenaar bevoordeel. Die idee is juis om musiek te maak wat populêr is, gesing word en verkoop.

“‘n Ou hoop altyd vir goeie resultate. Daar is ‘n goeie resep om te volg en die volgende stap is dat die publiek ‘n sukses maak van dit. Ek wil natuurlik hê dat die kunstenaars die maksimum publisiteit en streams kry. Ek skryf met die doel dat dit goed doen op radio en streaming services,” noem Cloete.

Hy noem ook dat die Covid-19 lockdown blues ook ‘n groot rol speel in watter tipe musiek tans op die voorgrond is – iets met ‘n lekker melodie waarop mense kan dans, saamsing en kuier. “Ek dink Suid-Afrikaners is honger vir bymekaar wees en saam die lewe vier. So lank was ‘n ou vasgevang en nou kan mense meer bymekaar kom. Kuier en dansmusiek is nou veral gewild as gevolg van dit. Ek dink mense wil net ‘n goeie tyd hê, so dit is waar my basis tans gevorm is om die gemoedere op te tel. SA musiek verander wel baie ook, daar is vir seker ‘n plek vir alles. ‘n Ou volg die neigings en ry die golf vir so lank as wat jy kan en pas dan jou styl aan op wat die publiek wil hoor.”

 

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig op die webwerf van die Herald se susterskoerant Potchefstroom Herald: Potch liedjieskrywer laat Afrikaners se voete dans | Potchefstroom Herald

Related Articles

Back to top button