NewsNews

Wonnies het ook ‘n nuwe hoof

Een van Hoërskool Wonderfontein se bekende onderwysers, mnr. Danie Beeslaar, het dié week amptelik die skool se nuwe hoof geword.

Jan Michael Daniël Beeslaar, oftewel Danie, is in 1984 in Nigel gebore en het sy skoolloopbaan in 2002 aan die Hoërskool Ventersdorp voltooi. Hy verwerf sy B.Ed-graad in 2006 aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Hoër Onderwys (PU vir CHO) in 2006. Op skool het hy al leierskap getoon en is in beide hoër- en laerskool as prefek aangewys.
Op universiteit vorm hy ook deel van die Koshuisraad in 2005.


Sy onderwysloopbaan skop in 2006 as onderwyser in inligtingstegnologie en rekenaartegnologie aan die destydse Hoërskool Vereeniging af, waarna hy by die destydse Hoër Tegniese Skool Vereeniging (HTS) aangestel is. In 2010 aanvaar hy ‘n pos as departementshoof by die Hoërskool President in Johannesburg. In Maart 2015 maak hy die skuif na Hoërskool Wonderfontein as adjunkhoof. Hy is onlangs as die vyfde hoof van Hoërskool Wonderfontein aangestel. Mnr. Beeslaar bied reeds vir jare rekenaartegnologie aan, maar erken dat geskiedenis ‘n groot passie is. Hy bied reeds vir die laaste twee jaar geskiedenis as matriekvak aan. Hy is passievol oor sport en kultuur en was gedurende sy onderwysloopbaan by albei betrokke.
Mnr. Beeslaar is nie die enigste een in sy familie wat in die onderwys is nie. Behalwe vir sy vrou, is albei sy broers en sy ouers ook in die onderwys, met sy pa wat vir byna twee dekades skoolhoof was. Mnr. Beeslaar beskou onderwys as ‘n roeping. “As jy ‘n paar jaar gelede vir my sou sê dat ek op 37, byna 38, skoolhoof sou word, sou ek jou nie geglo het nie. Nou dat dit gebeur het, kan ek my roeping uitleef.”
“Hoërskool Wonderfontein is bevoorreg om hom as hoof aan te stel en wens hom alle voorspoed toe in die taak wat hom opgelê is,” sê Me. Freitas, Beheerliggaamvoorsitter van Wonderfontein.

Related Articles

Back to top button