NewsNewsSportSport

Jong jaer op pad na VSA

Fochville se bekende jong renjaer, Lonika Maartens, is dié week op pad na die VSA om moontlik haar loopbaan daar te gaan voortsit.

Die 21-jarige Lonika jaag al in een of ander voertuig sedert sy vyf jaar oud was. Sy was maar ses jaar oud toe sy die “Rookie of the Year”-toekenning verwerf het. Sy het reeds vir jare aan internasionale wedren-reekse deelgeneem én met wenplekke weggejaag teen die tyd dat sy oud genoeg was om vir ‘n bestuurderslisensie aansoek te doen. Behalwe dat dié oud-leerling van Hoërskool Fochville se ouderdom dikwels koppe in wedrenne saam met seniorjaers laat draai het, was Lonika ook die meeste van die tyd die enigste vrou wat deelgeneem én die manne les laat opsê het. Lonika het die afgelope twee jaar haar passie vir motorsport verder uitgeleef deur ‘n amptelike renjaer vir Stradale Motorsport tydens die Volkswagen Polo Cup te wees en was tydens verskeie geleenthede onder die top ses. Sy was ook die afgelope jaar ‘n GT3 toetsjaer van Lamborghinis en Ferraris en is uitgenooi om in ‘n Lamborghini GT3 motor aan die internasionale nege uur wedren by die Kyalami renbaan deel te neem. Sy was ook die eerste vrou om ‘n Lamborghini in die GT3 afdeling te jaag en in só ‘n vuurwa te kwalifiseer. Sy was ook die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat op die GT3 wennerspodium geëindig het. Sy was verder die afgelope jaar ‘n toetsbestuurder in verskeie motors by die Star Raceway in Klerksdorp, asook ‘n ster in haar gesin se Denmar Steel-span in wedrenne op die ovaalbaan. “My groot droom is egter nog altyd om ‘n professionele renjaer in die VSA te word,” sê Lonika. Lonika het van die VSA begin droom toe sy dié land in 2014 en 2015 tydens die wêreldkampioenskappe van die Legends-reeks in die VSA besoek het. Sy was in dié twee jare onderskeidelik derde en tweede tydens dié wêreldkampioenskappe. Dié droom is nou baie naby om bewaarheid te word. Lonika vlieg Vrydag, 26 November na Denver in die Amerikaase deelstaat North Carolina om op 30 November en 1 Desember op die Hickory-renbaan aan uitdunne vir ‘n plek in die Lee Faulk Racing span te jaag. Lee Faulk Racing help om renjaers vir die Nascar-reekse te ontwikkel. Volgens Lonika is ‘n plek in die Nascar-reeks haar langtermyn doelwit. Sy sal egter nie veel tyd hê om stil te sit en te wonder oor die uitkoms van dié proewe nie. Sy land eers weer op 16 Desember in Suid-Afrika, maar gaan dan weer op uitnodiging op 17 en 18 Desember aan die Suid-Afrikaanse nasionale ovaalbaan kampioenskap in Richardsbaai deelneem. Volgens Lonika verwag sy nog nooit om spesiaal behandel te word omdat sy ‘n vrou in die tradisionele manswêreld van motorrenne is nie. “Ek het dit gekies en dit is my lewe. As ek my “helmet” op het, is ek ‘n drywer net soos enige iemand anders,” sê sy.

Related Articles

Back to top button