NewsNews

‘Ek is klaar met padritte,’ sê sportiewe vrou na ongeluk

"Dit het gevoel of ek in stadige spoed kon sien hoe die randsteen nader kom..." - sê Gerda dos Santos

‘n Bekende fietsrygeesdriftige van Sasolburg, mev. Gerda dos Santos (52), pak nou ‘n lang pad na herstel aan nadat sy op 3 Oktober deur ‘n voertuig van haar fiets afgestamp is.

Hoewel sy geen breuke in haar arms of bene opgedoen het nie, is haar gesig, neus en linkeroog so erg beseer dat sy in die afgelope weke reeds twee keer plastiese snykunde moes ondergaan en nóg operasies lê voor.

Gerda, wat drie jaar gelede aan die Argus-fietstoer in Kaapstad deelgeneem het, het die oggend van die ongeluk agter haar man, Frank, tot naby Parys gery en was reeds weer amper by hul huis in Sasolburg toe sy skielik ‘n harde stamp voel en deur die lug trek.

“Dit het gevoel of alles in stadige spoed gebeur. Ek kon sien hoe die randsteen nader kom voordat ek dit getref het,” sê sy. “Ek het reg op my gesig geval en kon voel hoe my neus en wang oor die randsteen skuur.”

Frank, wat so 4 meter voor haar gery het, het die slag gehoor, omgekyk en gesien dat sy vrou in die pad lê. Die geskokte voertuigbestuurder het dadelik gestop, saam met verskeie ander motoriste wat ook hulp wou verleen.

“Ek was heeltyd by my bewussyn en in ondraaglike pyn. Ek kon hoor hoe die bestuurder aanbied om my hospitaal toe te neem, maar Frank het gekeer en gesê daar sal eers vasgestel moes word hoe erg ek beseer is. Bloed het uit my gesigwonde gestroom en terwyl ek my oë met my hande toegedruk het, het ek my ledemate een-vir-een beweeg om te voel of daar enige breuke is. Buiten my gesig was my linkerskouer baie seer.

“Ondanks die bestuurder se eie skok het hy my na die Vaalpark-hospitaal se ongevalle-afdeling geneem terwyl my man op die ongelukstoneel agtergebly het om reëlings te tref dat die wrak van my fiets kom haal word. By die hospitaal is ek vir x-strale gestuur en die personeel het my gesigwonde skoongemaak. ‘n Deel van my linkerooglid was los en weggeskeur en my neus was ook erg beseer. Die ongevallepersoneel het gesê dat hulle niks verder vir my kon doen nie en het aanbeveel dat ek na Mediclinic Vereeniging moes gaan, waar ‘n uitstekende plastiese snykundige, dr. S.E. Phiri, my begin behandel het,” sê sy.

Gerda was ses dae in die hospitaal waartydens twee operasies gedoen is, onder andere om ‘n wond onder haar oog te heg en ‘n veloorplanting te doen op die gedeelte van haar linkerooglid waar die vel heeltemal weggeskeur was.

Sy het nog heelwat steke rondom haar oog, oor haar neus en ook voor haar regteroor, waar vel geöes is vir die veloorplanting. ‘n Opvolgoperasie sal oor ‘n paar weke gedoen moet word om haar ooglid, wat nie kan toemaak nie en wegstaan van haar oog af, reg te stel.

Lees hier die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterskoerant Vaalweekblad:

‘Ek is klaar met padritte,’ sê sportiewe vrou na ongeluk – Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button