Local newsNewsNews

Stop die verval in Merafong, stem VF Plus

Die grootste mislukking van die ANC-regering is die stand van munisipaliteite.

Die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville en Wedela) is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n bankrot munisipaliteit waar inwoners gestraf word vir die wanbestuur van openbare fondse.

Dienslewering is ontoereikend, infrastruktuur verval met slaggate in paaie, straatligte wat buite werking is of heeldag brand, verkeersligte wat buite werking is, riool wat in strate loop en verouderde substasies wat nie onderhou word nie, is ‘n paar voorbeelde wat daagliks in Merafong voorkom.

Onder die leiding van Ben van der Berg, VF Plus burgemeesterskandidaat in Merafong, wil die party ook fokus om kragkabel diefstal in die gebied te stop. Infrastruktuur word beskadig deur diefstal van kragkabels wat weer vir skroot verkoop word. Dit is onregverdig dat belastinggeld gebruik word om die kragnetwerk te herstel.

Die VF Plus is van mening in baie gevalle is die munisipale bestuurder, hoof finansiële beamptes en ander senior amptenare nie op grond van meriete aangestel nie en beskik hulle nie oor die nodige kundigheid, ervaring en vaardighede om ‘n munisipaliteit suksesvol te bestuur nie.

Regstellende Aksie-aanstellings in munisipaliteite het gelei tot die klemverskuiwing vanaf meriete na ander gronde soos velkleur, politieke affiliasie en politieke party-faksie. Hierdie aanstellings en kaderontplooiing het tot erge wanbestuur gelei. Rassediskriminasie moet teëgestaan word en gelyke geleenthede vir almal moet bevorder word.

Beskikbare fondse word verkeerd aangewend weens ‘n tekort aan kundigheid en infrastruktuurtoekenning wat munisipaliteite van die nasionale fiskus ontvang, word oor die algemeen onderbestee. Die gevolg is ‘n tekort aan instandhouding en algemene verval van infrastruktuur. Die verpligte besteding van 8% van die boekwaarde van eiendom, toerusting en aanleg aan instandhouding, word nie nagekom nie.

Die party is ten gunste van die vestiging van ‘n verantwoordbare munisipale raad wat effektief oorsig oor munisipale finansies en amptenare bied en verantwoordbaar teenoor inwoners is en hul basiese regte verseker.

Tenderprosesse by munisipaliteite moet hersien word om deursigtigheid te bewerkstellig. Alle kontrakte wat die munisipaliteit met diensverskaffers sluit, moet beskikbaar wees vir insae deur die publiek.

Inwoners kan nie langer buitensporige tariewe betaal nie. Tarief- en belastingverhogings moet billik wees. Te midde van die huidige ekonomiese krisis, kan daar eerder verlagings en kortings toegepas word.

Die blaam vir die finansiële krisis kan nie slegs op die globale ekonomie en Covid-19 geplaas word nie. Die oorsaak is baie eerder jarelange finansiële wanbestuur, korrupsie, selfverryking, vermorsing en verkeerde prioriteite.

Daar is ‘n algehele tekort aan fiskale dissipline op plaaslike regeringsvlak.

Die bose kringloop moet stop waar die Merafong-munisipaliteit ontoereikende dienste lewer en tariewe verhoog wat tot minder ontwikkeling en groei van die privaatsektor lei. Dit lei weer tot ‘n verarmende bevolking en werkloosheid wat die inkomstestroom van die munisipaliteit verminder.
Inwoners het op 1 November die geleentheid om saam met die VF Plus teen die verval van Merafong op te staan en te help om die munisipaliteit te red.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button