NewsNewsSportSport

Dakota se ruiters presteer by SA’s

Verskeie ruiters van die Dakota Westerse Rykunsklub het tydens dié sport se nasionale kampioenskap presteer.

Dié byeenkoms, die SAWMGA (South African Western Mounted Games Association) se nasionale kampioenskappe, is van 4 tot 6 Oktober by die AfriDome in Parys gehou. Altesaam 478 perde het aan vanjaar se kragmeting deelgeneem.
Volgens die Dakota-klub se afrigter, Jackie Standing, het Vlak 0, 1 en 2, leiriem en gestremde ruiters op 3 en 4 Oktober deelgeneem, terwyl die SAEF (South African Equestrian Federation), Elite en Vlak 3 en 4 ruiters op 5 en 6 Oktober hul staal gewys het.
Tydens die eerste twee dae was die Dakota-ryers Denika Ras op Katima in die L2 Child-klas, Rosa Yasmine van Niekerk op Zahara in die L1 Junior-klas en Nicole Standing op Boesman in die L1 Junior-klas en op Hubini in die L2 Junior-klas in aksie. Denika het die tyd in een van haar 10 items met 9 sekondes verbeter en Rosa het konstant met Zahara presteer. Nicole het met haar oorgretige perd Hubini, gesukkel, maar al 10 items voltooi.
“Dit was die eerste nasionale vir Katima, Zahara en Hubini, so die gemoedere het hoog geloop,” sê Jackie.
Nicole het weer eens op haar ervare perd Boesman, as die reserwe kampioen in die L1 Junior-klas weggestap.
“Hy het in 8 van sy 10 items verbeter. Hoewel ons hom weens gesondheidsredes wou onttrek, het sy hom rustig gehou en nie gedruk nie en hy het sy bes gegee,” sê sy.
Die laaste twee dae van die kampioenskap was Rosa van Niekerk in die Veteraan- en Seniorklas, asook Nicole Standing met haar moedswillige merrie Saffier, aan die beurt. Rosa het ook sewe van haar 10 tye verbeter en van die L0 na L1-klas opgeskuif en in ‘n paar plekke met pryse weggestap.
“Nicole se eerste dag was naelbyt met ‘n noue ontkoming op haar perd Saffier,” sê Jackie. Sy het egter klaar gemaak en net een tyd vir die jaar verbeter. Die volgende dag het sy na haar val die vorige dag met ‘n swaar gemoed op Saffier begin. Hoewel Nicole gehoop het om te kan vasbyt en deur te druk, het Boesman die oggend begin koliek en kon nie fokus nie. Hulle moes op die ou einde na die tweede kompetisie van die dag onttrek. Deelnemers van talle ander provinsies het hand bygesit om Boesman te help. Selfs paramedici het ingespring om hom op ‘n drup te sit toe hy begin ontwater.
“Met die Here se genade het al die ruiters en perde veilig na die kampioenskap teruggekeer. Vir alle ruiters wat dink hulle sal nooit goed genoeg wees vir die nasionale span nie, byt vas en druk deur.
“Boesman is semi-afgetree, maar met sy ervaring het hy die jonger perde gewys dat spoed nie alles is nie, maar respek tussen perd en ruiter het hom die tweede plek laat behaal. As die skoonheidskoningin, Rosa van Niekerk, deur al haar ander harde werk nog perdry kan inpas, is tyd nie ‘n verskoning nie,” sê Jackie.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button