EntertainmentNewsNews

Gerard Stoop: sanger-prokureur bring hulde aan Enkelouer Ma’s

Gerard Stoop, ‘n prokureur van Pretoria, skryf 'n unieke liedjie om hulde te bring aan baie Suid-Afrikaanse vroue wat ma én pa in hul huishoudings is.

Gerard Stoop, ‘n prokureur van Pretoria, het vir ‘n wyle sy regsdokumente eenkant toe geskuif en ‘n liedjie neergepen wat moontlik net ‘n nuwe era in die musiek-en liriekbeweging kan inlui.

Die liedjie, Enkelouer Ma, is sy heel eerste enkelsnitvrystelling. Dit is in Julie vrygestel en het positiewe kommentaar van musiekliefhebbers landswyd ontlok.  Die liedjie is in ‘n storievertel-trant geskryf en herinner sterk aan die werk van die musiek en -liriek sangers van die laat tagtigs.

Gerard, wat ‘n bekende gesig in die regswêreld is, het in ‘n musikale huishouding grootgeword, maar het teen sy talent en roeping vasgeskop. Hy het wel gedurende sy universiteitsdae in restaurante gesing en kitaar gespeel.

Dit is eers hier “in my middeljare,” spot hy, dat hy besluit het om die musiek- en liriektalent wat soos goue heuning deur sy familie stroop, te ontwikkel.  Sy suster, Marietjie Stoop, is ‘n bekroonde liriekskrywer wat handevol treffers vir onder andere Janita Claasen geskryf het.

Enkelouer Ma is geïnspireer deur dáárdie vroue wat jare lank finansieel en emosioneel moet swoeg om hulle kinders groot te maak. Dit handel oor die rol wat enkelma’s in hulle kinders se lewens speel; om beide die rol van ‘n ma en ‘n pa te vertolk.

Dié tema is ook heel gepas vir die omstandighede waarin duisende Suid-Afrikaanse vroue hulself bevind.

Gerard het besluit om Marietjie se sopraan as agtergrondstem in te span en die eindresultaat is ‘n inspirerende, goedvol-luisterliedjie. “Ek het nog altyd die grootste bewondering en respek vir my suster se talent gehad en dit was ‘n groot voorreg om saam met haar te werk.”

Gerard verklap dat hy die woorde van Enkelouer Ma sommer in sy motor geskryf het. “Net voor die grendeltyd het ons ‘n 21ste verjaarspartytjie van ‘n vriendin se seun bygewoon Sy het haar kinders alleen grootgemaak en haar waagmoed en durf het my so geïnspireer dat ek gevoel het ek moet ‘n liedjie daaroor skryf,” vertel Gerard. “Ek het besef dat baie vroue hulle in soortgelyke situasies bevind en daarom het ek ook die liedjie aan hulle opgedra. Die wysie het een oggend vroeg in my kop gedraai en ek het dit daar en dan op my selfoon opgeneem.

Pieter Stanton het die musikale versorging en opname van die liedjie gedoen en die musikant Quentin Pendle was verantwoordelik vir die musikale begeleiding.

Gerard glo dat hy gebore is om liedjies te skryf en dat elkeen van sy liedjies ‘n storie in die mooiste Afrikaans moet vertel. Met die vrystelling van Enkelouer Ma behaal hy daardie doelwit en hopelik word hy hiermee ook aan die wyer musiekmark bekendgestel.

 

Related Articles

Back to top button