EntertainmentNewsNews

Tof op vir die 100-jarige feesviering

Eeufeesvierings word Vrydag en Saterdag tydens die mark by die Snowflake-gebou in Potch gehou.

Eeufeesvierings word Vrydag en Saterdag tydens die mark by die Snowflake-gebou gehou. Min weet dat dié statige ou gebou in 1921 deur William Hinchcliff Horsfall oorspronklik as ‘n meule opgerig is. Daarom het die eienaars van die gebou, Albert en Martie Bothma, gedink om behoorlik fees te vier deur terug te gaan in tyd.

Besoekers word genooi om Vrydag en Saterdag tydens die mark die gebou te besoek en op te “dress” in die styl van die twintigerjare of Steampunk – die eklektiese industriële kunsstyl waarin die gebou tans gerestoureer is. Pryse sal oorhandig word aan diegene wat kan “dress” om te “impress”.

Die Snowflake-gebou is deel van Potchefstroom se ou geskiedenis en sy verhaal is goed nagevors deur ‘n plaaslike historikus, dr. Lennie Gouws, wat in haar boek, Stories van Potchefstroom (2018) sy verhaal van die afgelope 100 jaar mooi uiteensit. Dr. Gouws vertel dat William Horsfall, ‘n Engelse ingenieur van London, in 1920 aansoek gedoen het om ‘n meule langs die kragstasie aan die bopunt van Wolmaransstraat op te rig. Destyds was daar heelwat besware, onder meer dat die kragstasie nie genoeg krag sou kon opwek om die meule te bedryf nie. Maar Horsfall het hom nie van plan laat verander nie en in 1921 was die meule in werking, hoewel dit deur stoom aangedryf is.  Volgens Gouws het hy dit tot sy dood in Februarie 1939 bedryf waarna dit aan die South African Milling Company (SAMC) verkoop is. Die nuwe eienaars het die Snowflake Flour advertensie daarop aangebring. Hierna is die meule gestop omdat die eienaars van SAMC later ‘n groter meule in Klerksdorp opgerig het. Die Snowflake-gebou is daarna tot 1996 slegs as stoorplek gebruik en die maalwerk is in Klerksdorp gedoen.

Die huidige eienaar van die gebou, Albert Bothma, het die gebou in 1997 gekoop waarna hy ‘n industriële bierbrouery, distilleerdery en ‘n verpakkingsaanleg vanuit die Snowflake-gebou bedryf het. Gouws skryf dat die Bourbon Street Brewing Company soveel as twee miljoen produkte per maand vervaardig het en dat dit na vier provinsies versprei is. Ongelukkig het die toename in misdaad die brouery tot stilstand gedwing met die afleweringsvloot van 22 verspreidingsvoertuie wat 80 keer gekaap is. In 2003 het daar sewe gewapende rooftogte by die Snowflake-gebou plaasgevind.

Albert se vrou, Martie, het egter steeds potensiaal in die gebou raakgesien. Sy vertel dat sy van die begin af op die gebou “verlief” geraak het. As beeldende kunstenaar het sy aanvanklik begin om kunsklasse in die gebou aan te bied, waarna sy later al hoe meer die atmosferiese ruimtes ingespan het om groot kunsuitstallings tydens die Aardklop kunstefees aan te bied.

In 2012 het sy begin om elke tweede maand ‘n kos- en handwerkmark aan te bied totdat daar nou elke eerste naweek van ‘n maand op ‘n Vrydag en Saterdag ‘n mark in die groot lokale van die gebou plaasvind. Met haar kunstenaarsoog en die praktiese vaardigheid van die ander werknemers het hulle die industriële materiaal wat eens deel van die gebou was, gebruik om installasiekunswerke buite en binne die gebou op te rig. Ratte, vervoerbande, ou bottels en ou onderdele is gebruik om die gebou te versier. Die estetiese gebou is ‘n fees vir die oog en nou ‘n gesogte venue vir funksies soos troues, koorfeeste, wynfeeste, partytjies, musiekfeeste en reünies.

Tydens die Covid-19-inperktyd was hulle inkomste skielik van hulle af weggeneem met die funksies wat nie daar kon plaasvind nie, maar die Snowflake-span het steeds die moed en visie gehad om die tyd te gebruik sodat hulle ‘n koffiewinkel en kunsgalery verder ingerig het.

Daar is dus baie rede om 100 jaar se geskiedenis te vier. Beoordelaars sal Vrydag (3 September) en Saterdag (4 September) mense wat volgens die tema aangetrek het nader sodat hulle ‘n kans staan om een van drie pryse te wen. Pryse word Vrydagaand om 19:30 en Saterdag om 12:00 oorhandig. Leen die krale, kry die onderbaadjie, stileer die hare en hang vir ‘n slag uit.

Tof op vir die 100-jarige feesviering | Potchefstroom Herald

Related Articles

Back to top button