Local newsNewsNews

Plaaslike kleinding binnekort op TV

Hoewel die meeste kinders net daarvan kan droom om op televisie te verskyn, is dít binnekort vir klein Jay-Dee Tolmay van Carletonville ‘n werklikheid.

Volgens die vyfjarige Jay-Dee se ma, mev. Alicia Tolmay, was hy een van duisende kleuters wat onlangs aan die Wysneusies-kompetisie deelgeneem het. Dié kompetisie gee aan kleingoed die geleentheid om deel te wees van ‘n TV-opname saam met die bekende sangeres Sonja Herholdt en haar gelukbringer, Tjokker.
Jay-Dee is as finalis in die kompetisie gekies en het tydens ‘n siftingsproses waartydens daar met ‘n SMS vir die wenners gestem is, heeltyd binne die top vyf gebly. Hy is toe ook as wenner van die kompetisie tussen die top vyf aangewys.
Dié wenplek het hom deel gemaak van die TV-opname van Sonja en Tjokker se liedjie, “Handjies in die lug”.
Die verfilming het Saterdag, 21 Augustus by die Pierneef Teater in Pretoria plaasgevind.
“Jay-Dee was baie opgewonde en het die dae tot die verfilming afgetel. Hy was wel baie skaam en senuweeagtig op die dag en sê hy wou amper huil toe hy al die kameras sien, maar hy het baie goed gevaar,” vertel sy ma.
“Dit was vir ons as gesin ‘n fantastiese belewenis en ons sal dit vir ewig onthou,” voeg sy by.
Dit is nog nie seker wanneer die video op televisie sal verskyn nie, aangesien die redigering daarvan ‘n tyd neem om af te handel. Volgens Alicia klink dit of die opname op Via, DStv-kanaal 147 uitgesaai sal word.
“Ons is baie dankbaar vir Wysneusies en Sonja vir die wonderlike geleentheid en glo dat dit vir Jay-Dee baie deure sal oopmaak as hy eendag die musiek- of filmbedryf wil betree,” sê sy ma.
Jay-Dee is die jongste van drie kinders wat, volgens hul ma, al drie ‘n passie vir musiek, modelwerk en die vermaakbedryf deel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button