NewsNews

Bejaarde op plaas vermoor

‘n Bejaarde vrou van die Kalbasfontein-omgewing tussen Fochville en Westonaria is die naweek op haar plaas vermoor.

Die 94-jarige mev. Hantie Geldenhuys, wat ‘n winkeltjie by Kalbasfontein bedryf het, is Vrydagnag kort voor middernag deur ‘n venster van haar huis geskiet.
“Twee skote is deur haar ribbes. Een patroon is nog in haar liggaam,” het een van die bure wat Geldenhuys na die aanval te hulp gesnel het, Saterdagoggend gesê.
Hulle het haar na die aanval na die Carletonville Hospitaal geneem.
Hoewel mev. Geldenhuys ‘n bloedoortapping gekry het en later na die Leratong Hospitaal oorgeplaas is, is sy later die dag in dié hospitaal oorlede.
“Dit is baie sleg en wreed,” sê een van die bure wat haar gehelp het.
“Rus in vrede Tannie Hantie, tannie het so hard gewerk! Nog ‘n moord. Twee susters en ‘n neef wreed vermoor in hulle huise oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar. Al drie van dieselfde generasie. So ongelooflik hartseer en onregverdig! Soos iemand genoem het – Tannie Hantie het geen kans gehad,” het ‘n familielid, Elma Geldenhuys, na haar dood op Facebook gesê.
Beeld berig dat die polisie in Westonaria ‘n klag van moord ondersoek. Sover vasgestel kon word is niemand nog in verband met die moord op mev. Geldenhuys in hegtenis geneem nie.

Related Articles

Back to top button