NewsNews

Geliefde parkeerwag oorlede

‘n Bekende parkeerwag van Carletonville, mnr. Paul Maree, is die afgelope week oorlede.

Mnr. Maree (81) het vir 24 jaar waarskynlik duisende inwoners se motors reg voor die ingang van Carletonville Pick n Pay opgepas. Volgens sy skoonsuster, Aletta Maree by wie hy gewoon het, het “Oom Paul”, soos baie mense hom geken het, ‘n paar weke gelede op pad van die werk af met sy fiets geval. “Hulle het hom met die ambulans hospitaal toe geneem, maar ons het hom na so twee tot drie ure weer gaan haal,” sê sy. Hy het egter die volgende dag, ‘n Saterdag, van erge pyn gekla en is weer die Maandag terug hospitaal toe. “Hulle het hom opgeneem en hom Leratong Hospitaal toe gestuur en van daar na Johannesburg Hospitaal,” sê mev Maree. Die dokters het egter vasgestel dat Oom Paul sy heup tydens die val van sy fiets gebreek het en hy is hiervoor geopereer. Tydens dié operasie het sy linkerlong egter platgeval, en hy moes vir vier dae op suurstof bly. Hoewel hy toe mooi begin herstel het, het Oom Paul toe twee keer longontsteking in die Johannesburg Hospitaal opgedoen. Hospitaalpersoneel het sy skoonsuster die oggend van 11 Augustus in kennis gestel dat hy oorlede is. “Hy was ‘n baie nederige mens. Al het mens hom net ‘n stukkie brood gegee, het hy altyd gesê “dankie, dit was lekker”, sê sy skoonsuster. Van Oom Paul se talle kennisse het na sy dood blomme in die boom voor Pick n Pay geplaas waar hy altyd gestaan het. Volgens sy skoonsuster kon reëlings vir sy begrafnis- óf roudiens nog nie getref word nie. Die familie het eers gespook om sy ID, wat iewers tussen die drie hospitale verlore geraak het, te probeer opspoor. Hulle moes toe hoor dat daar eers ‘n nadoodse ondersoek gedoen moet word omdat hy na ‘n operasie oorlede is.

Talle kennisse het die afgelope week blomme in die boom voor Pick n Pay geplaas waar Oom Paul altyd gestaan het.

Related Articles

Back to top button